TUINROETE RUGBY NUUSFLITS - Bridgton het Saterdag 12 Mei met 27-35 teen Silver Stars op die George Rosemoor-sportterrein verloor.
Beide spanne het vyf drieë gaan druk. Dit was egter Bridgton se skopwerk wat hulle in die steek gelaat het. Bridgton se verloor teen Silver Stars volg 'n week na Bridgton met 27-25 teen die gedugte Evergreens gewen het.
Die kop-aan-kop tellings en die feit dat daar nog 10 wedstryde oor is voor die uitspeelrondtes, wys daar in die Premierliga van SWD-rugby wag nog groot opwinding wag.
Dit was die wenspan se vierde oorwinning agtereenvolgens en hul skuif nou op na die sesde posisie op die punteleer met 22 punte.
Stars se beste speler was ongetwyfeld hul agtsteman, Heinrich Leukes. Hy is goed bygestaan deur Enrico Ruiters (flank), Jerovin Spandiel (slot) en Franklin James (vaskopstut).
Agterlangs was Neillin Scott (heelagter), Earl Rouls (regtervleuel), die senters Ashwin Scott, Wensley Scott, Henrico Scott (losskakel) en Dillon Kerspuy (skrumskakel) baie gevaarlik met die bal in die hand.
Earl Rouls, Ashwin Scott, Henrico Scott, Dillon Kerspuy en Godwin Mangenje het die wenspan se drieë gedruk. Neillin Scott het met drie doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag. Henrico Scott het 'n strafdoel oorgeskop.
Anver Venter (heelagter), Carlos Jacobs (vaskopstut) en Bradwin Wanies (regtervleuel, drie) het vir Bridgton gaan druk. Keanin Esau (losskakel) het met ‘n doelskop geslaag.
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'