RUGBYNUUS - Bridgton-rugbyklub se A-span het die afgelope naweek by Bridgton-sportterrein vir George in 'n Super A-ligawedstryd met 56 - 17 met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Vir die A-span was dit veral Willem Jaftha, Bridgton se veelsydige agterspeler, wat die oog gevang het met vyf uitstekende drieë.
Bridgton se B-span het ook hul teenstanders met 71 - 17 afgeransel. Hier was dit die tuisspan se heelagter, Jaden Taute, wat 'n driekuns van drieë behaal het.
Jaftha is ook tot dusver die voorste driedrukker in die liga met 15 drieë agter sy naam in net nege wedstryde. Die eerste helfte se telling was 28 - 5 in die maroen truie se guns.
Stanley Kruger, hoofafrigter van Bridgton-rugbyklub, het na die wedstryd gesê dat hy in sy noppies met die span se spel was.
"My mikpunt was om balbesit te hou en fases op te sit. Ons het ook ons tempo afgewissel om nie uitgevang te word nie. Ons het byvoorbeeld ons skoppe meer oordeelkundig gebruik vir gebiedsvoordele onder andere. 'n Kwelpunt steeds is ons skrums en lynstane waar ons swaarkry, alhoewel dit met tye beter gegaan het. Maar nietemin is ons hard besig om verstellings te maak en om meer klinies in hierdie areas te wees. Ons algemene spel veral in die vastelos was vir my baie goed. Ons strewe daarna om ook skoon balbesit te kry vir ons gevaarlike spelbrekers om te gedy," het Kruger gesê.
Jaftha het op sy beurt sy goeie vorm aan harde werk en dissipline toegeskryf. "My voorbereiding het reeds maande gelede begin toe ek aan my stamina en spoedoefening gewerk het. Dan hou ek ook by die afrigter se wedstrydplan en speel ek wat ek voor my sien. As die opposisie begin moeg raak is daar baie geleenthede om te score en dan is dit net 'n kwessie van afronding.
Vir my is dit ook lekker om myself te meet teen spelers met groot name om te kyk watter gedeelte van my spel ek aan moet werk. Soos in enige sport probeer die opposisie ook in jou kop klim, maar dit is hier waar jy ook mentally sterk moet wees. My resep is ook om nederig te bly en altyd te bid," het Jaftha gesê.
Willem Jaftha duik oor die doellyn vir een van sy vyf drieë.
Die slot, Ayden Pretorius, was 'n derduidwel met bal in hand. Foto's: Ebenezer Titus
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’