OUDTSHOORN NUUS - Die afgelope naweek se veel-besproke SWD Super A-liga derbywedstryd tussen Oudtshoorn se twee swaargewigsrugbyspanne, Bridgton en Harlequins, het opgeleef na die opwinding en drama wat vooraf verwag is. Bridgton het die knoop uiteindelik met 20 - 15 deur-gehak, maar dit was soos die Engelsman sê, 'no walk in the park'.
Hierdie oorwinning het Bridgton se status as die beste rugbyspan in Oudtshoorn herbevestig.
Die wedstryde was op Harlequins se tuisveld, die Infanterie se sportterreine gespeel en het bykans
10 000 toeskouers gelok. Voor die aanvang van die hoofwedstryd het Harlequins se bestuur 'n geraamde trui met die syfer 10 (losskakel) aan wyle Keanin Esau, se kinders oorhandig.
Eerste helfte
In die eerste helfte het beide spanne hewige druk op mekaar geplaas met teenaanvalle wat om die beurt geloods is. Tinsley Stuuman en Willem Jaftha het vir Bridgton twee drieë gedruk in die eerste helfte terwyl Dehovine Johannes twee doelskoppe en 'n strafdoel oorgeskop het.
Harlequins het hierdie vrae uitstekende beantwoord met ook twee skitterdrieë deur die veteraan Rhupino Plaatjies en Le-urtis Luke. Plaatjies het ook 'n skepskop oorgeklits met die jong Jaylin Pretorius wat suksesvol was met 'n doelskop.
Dit het die rustydtelling op 17 - 15 te staan gebring met die wedstryd nog in die weegskaal, dus die vooruitsig van 'n sapperige nagereg vir die fynproewer.
Tweede helfte
In die tweede helfte het die manne behoorlik hul lywe op die spel geplaas met desperate duikslae wat die skare van pure lekkerkry laat bulder het soos honger leeus.
Harlequins kon nie daarin slaag om 'n enkele punt aan te teken nie, maar kan hul koppe omhoog hou vir 'n skitterende wedstryd. Bridgton op sy beurt kon self net drie punte via Johannes se skopvoet behaal - 'n testament van die hardnekkige verdediging en dissipline van albei spanne.
Met hierdie oorwinning beklee Bridgton nou na ses wedstryde die 5de posisie op die algehele punteleer van 12 spanne met 24 punte. Blanco van George en Barbarians van Mosselbaai lê onderskeidelik eerste en tweede met 30 en 29 punte, maar het elk reeds agt wedstryde gespeel.
Harlequins het 10 punte tot dusver van agt wedstryde en beklee die 10de posisie.
Bridgton-voorsitter, Jason Abrahams
Jason Abrahams, voorsitter van Bridgton-rugbyklub, het na die wedstryd Harlequins geloof vir hul spelpeil en voorspel dat hulle sommer lank in die SWD Super A-liga gaan speel.
"Harlequins het goeie account van hulself gegee en dis duidelik dat hulle nog groot spanne gaan laat struikel in hierdie tawwe liga. In dieselfde asem wil ek ons eie afrigter Eddie Meyers, 'n kloppie op die skouer gee vir die boys se fiksheid en die reusewerk wat hy in die off season gedoen het. Vandag was ons vyfde agtereenvolgende wen, en mag ons hierdie vorm behou. Ek wil nie graag spelers uitsonder nie want dit was 'n spanpoging, maar Jaftha, Tinsley, Marshall Prins, Wayne Julies, Duwayne le Roux en Juandrè Fourie het massiewe wedstryde gehad. Ons bly egter nederig is gefokus vir ons volgende wedstryd komende Saterdag teen Maoris by die Plate (Bridgton-sportterrein)."
Abrahams het Oudtshoorn-gemeenskap aangemoedig om soos verlede week, weereens in hul duisende op te daag om hul span te kom ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’