TUINROETE NUUS - Die SWD Arende se rugbyspens vul stadig maar seker op, maar die tyd om 'n mededigende groep vir 2026 gereed te kry, raak gevaarlik min.
Só sê Heyneke Meyer, hoofafrigter van die Arende, oor die werwingsproses wat nou momentum optel, maar teen finansiële en tydsdruk vasloop.
Meyer se nuutste twee aanwinste is Abner van Reenen, die voormalige Stormers-losskakel wat ook in Italië en Rusland sy hand aan oorsese rugby gewaag het, en wat ewe gemaklik op losskakel of senter kan funksioneer.
Saam met hom sluit Rene Lucas aan - 'n dinamiese vleuel wat sy tande by die Bulle en Boland geslyp het en vanjaar vir Boland se Top 12 Klubspan van die Jaar gekies is.
Meyer wil 'n oefengroep van 32 spelers vir 2026 finaliseer. Die prioriteit is om die Arende se diepte op skrumskakel, losskakel en senter te versterk.
Maar om die regte spelers te kry, is nie eenvoudig nie, sê Meyer.
"Toe ek begin werf het, was daar 'n klomp ongelooflike spelers wat gretig was om vir die SWD te kom speel. Maar sonder die nodige finansies sneuwel baie van daardie planne.
"Dít is die kern van die probleem: jy kan nie 'n mededingende span bou sonder geld nie," beklemtoon hy.
Daarby neem die proses by SARU, asook onderhandelinge met 'n sportkonsortium en potensiële borge, langer as gehoop.
"Gelukkig het ek reeds drie plaaslike vennote wat drie spelers borg. Dis 'n begin."
Meyer het ook na die ongelykheid tussen unies verwys.
"Die sogenaamde kleiner unies kry 'n fraksie van wat die groot franchises ontvang. Sommige van die groot unies se begroting vir een speler is meer as wat kleiner unies vir 'n hele seisoen het."
Hy glo vas dat Suid-Afrika 14 sterk unies nodig het.
"Ons verloor ongelooflike talent sodra spelers skool verlaat. Hulle gaan studeer in groot stede en probeer by franchise-unies inskakel, en so raak hulle vir die kleiner unies verlore.
"Met finansiële steun kan ons hulle behou, slyp en ontwikkel. Kyk maar na spelers soos Willie le Roux en Lood de Jager - hulle het by kleiner unies begin voordat hulle opgepik is. Die laaste ses of sewe Springbokke het almal wortels by kleiner unies."
Meyer glo ook Suid-Afrika se afrigter-spoel word onderskat.
"Ons het wêreldklasafrigters in topskole en selfs die Varsity-reeks wat klaar gereed is vir Curriebeker-rugby.
"Dit maak net sin om die kleiner unies te versterk sodat nóg spelers professioneel kan deurbreek."
Meyer sê daar is hope talent in die SWD-klubstelsel, maar die sprong na professionele rugby is enorm. "Topvlak-rugby is 'n harde, ongenaakbare woestyn. Dit verg uitstaande kondisionering. Vir baie klubspelers neem dit minstens ses maande om superfiks en professioneel gereed te wees."
Maar die horlosie tik genadeloos.
"Die ander unies is volstoom aan die gang. Ons het basies nog net Januarie en Februarie oor om die span voor te berei voor die 2026-seisoen ernstig begin. Ons kan nie 'n dag mors nie."
Die SWD Arende het reeds die volgende spelers vir die 2026-seisoen gekontrakteer:
Carel le Roux
- Spanne: SA Sewes, Pumas, Enisei-STM (Rusland) en Blou Bulle-ontwikkelingsroete.
- Opsomming: ’n Kragtige en dinamiese losvoorspeler met ’n sewesagtergrond, hoë werktempo en sterk bydrae tot die spel. Het Curriebeker-rugby vir die Pumas gespeel en Europese ervaring by Enisei opgedoen.
Matthew Gray
- Spanne: Maties (kaptein) en Griffons (Curriebeker).
- Opsomming: ’n Gerespekteerde tweederyspeler bekend vir leierskap, vaste stelstukwerk en konsekwentheid. Het hom tydens sy tyd by die Griffons gevestig as ’n fisiese, betroubare slot.
Gideon van Wyk - Spanne: SA Skole, Vrystaat, Houston SaberCats (MLR) en SA Sewes-ontwikkelingsroete.
- Opsomming: ’n Kragtige losvoorspeler met ’n uitstekende jeugagtergrond en professionele ondervinding in die VSA. Bekend vir sterk balhantering, goeie verdediging en hoë fiksheidsvlakke.
HD Stemmet
- Spanne: Maties en Western Force (Australië).
- Opsomming: ’n Sterk, atletiese agtsteman wat ligaamlike krag, spoed en konstante impak bymekaarbring. Het goed ontwikkel by Maties en professionele blootstelling by die Western Force gekry.
Kyle Cyster
- Spanne: Griffons en SA Sewesakademie.
- Opsomming: ’n Vinnige, buitespeler met uitstaande spoed en ratsheid. Bewys by die Griffons en bekend vir sy aanvallende verdediging en afrondingsvermoë.
Carl Bannies
- Spanne: Pumas en Blou Bulle.
- Opsomming: ’n Kragtige, senter bekend vir sterk balhantering en betroubare verdediging. ’n Taai middelveldspeler met deeglike Curriebeker-ervaring.
Keanu Vers
- Spanne: SA Skole en Griffons.
- Opsomming: ’n Talentvolle agterlynspeler met sterk aanvalvaardighede, spoed en spelvermoë. Het op jeug-nasionale vlak uitgemunt en goed vir die Griffons presteer.
Janus Venter
- Spanne: Cheetahs en Chicago (VSA)
- Opsomming: ’n Fisiese, betroubare haker met akkurate lynstaan-ingooie en sterk skrumvermoë. Bring gehardheid en ’n hoë werktempo na die spel.
Mbasa Maqubela
- Spanne: Blou Bulle Juniors
- Opsomming: ’n Kragtige stut met ’n sterk skrumbasis en goeie mobiliteit vir ’n voorryspeler. Ontwikkel deur die Bulle se jeugstelsel met bewese gehardheid en werktempo.
Abner van Reenen
- Spanne: Stormers, Cheetahs, Rovigo Delta (Italië) en Lokomotive (Rusland).
- Opsomming: ’n Produk van Paarl Boys’ High wat deur die Stormers en Westelike Provinsie-stelsel gekom het voordat hy by die Cheetahs aangesluit het. Hy het later vir Rovigo Delta in Italië gespeel en sy internasionale loopbaan by Lokomotive in Rusland afgesluit.
Rune Jean Lucas
- Spanne: Bulle en Boland
- Opsomming: ’n Sterk vleuel wat deur die Bulle se junior strukture gekom het ná verteenwoordiging vir Boland Skole. Hy is in die Top-12 Boland Klubspan van die Jaar opgeneem, waar sy spoed, voetwerk en afrondingsvermoë hom as een van die streek se mees opwindende buitespelers gevestig het. ’n Dinamiese nr. 13/vleuel wat spoed, krag en kreatiwiteit na die spel bring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’