RUGBY NUUS - Alle paaie lei Saterdagmiddag na Outeniquapark wanneer SWD se 2022-klubkompetisie 'n hoogtepunt bereik.
Dan word die onderskeie eindwedstryde gespeel en dis veral die hoofwedstryd in die Superliga A-reeks tussen die A-spanne van Crusaders en Heidelberg RVK wat groot belangstelling wek.
Wanneer die hoofwedstryd om 16:15 begin sal die stadion na verwagting tot volle kapasiteit gevul wees.
Die spanne wat in die hoofwedstryd betrokke is, het in die dae tot die aanloop van Saterdag se wedstryd hul finale voorbereidings gedoen.
Daar word verwag dat ondersteuners van beide spanne gaan opruk na die stadion.
In rugbykringe word gegis dat Crusaders dalk 'n "tuiswedstryd" voordeel het, want die wedstryd vind immers in George plaas. Die hekke open Saterdagoggend om 08:00.
Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, het Maandag gesê 'n volgepakte stadion word verwag. Hy het 'n beroep op ondersteuners gedoen om vroeg 'n sitplek te verseker.
Volgens Brinkhuis wys die toeskouergetalle by klubwedstryde vanjaar dat klubrugby in SWD gesond is.
Gershwin Muller van Crusaders beur vorentoe met die bal, terwyl Eschen Jansen hom probeer keer. Foto: Kristy Kolberg
Wat sê die leierskorps
Die leierskorps van die spanne in die hoofwedstryd het aangedui dat hulle uitsien na die wedstryd, maar hulle wou nie voorspellings oor die uitslag waag nie.
Julian Buis, voorsitter van Heidelberg RVK, het Maandag gesê die span sien uit na die wedstryd. Dis 'n groep spelers wat al sewe jaar saamkom. Dis plaaslike spelers wat van Heidelberg kom en goed afgerig is deur Johan Erasmus.
Die klub het in 2017 die Presidentsliga gewen. In 2018 het hulle vyfde klaargemaak in die Superliga en in 2019 vierde toe hulle teen die einste Crusaders in die halfeind-ronde verloor het.
Volgens hom is die gemeenskap baie opgewonde oor Saterdag se wedstryd. Die span moet goed doen om die kinders op die skoolbanke en in die straat hoop te gee. "Daar is hoop in die lewe."
Ronaldo Fortuin van Crusaders druk 'n drie in die hoekie, terwyl 'n speler van Groot-Brakrivier te laat is om hom te keer. Foto: Kristy Kolberg
Hy het gesê Heidelberg is 'n baie trotse en passievolle gemeenskap. Die toeskouers is ontsettend entoesiasties en passievol oor die klub se swart trui. Hy het die ondersteuners, toeskouers en borge bedank vir hul ondersteuning. Buis het benadruk hul respekteer hul teenstanders vir Saterdag se wedstryd.
Kevin van Wyk, president van Crusaders, het gesê hulle is versigtig optimisties. Die wedstryd sal met die val van die bal beslis word.
"Iemand wat vooruitskattings maak oor die uitslag, gaan verwaand wees. Daar is 'n klomp veranderlikes wat 'n rol speel. Ons is bewus van Heidelberg se vermoëns. Crusaders het homself baie goed vanjaar van sy taak gekwyt." Hy het bygevoeg: "Daar is ruimte vir verbetering."
Die klub het vanjaar gesien daar is areas waar hulle baie beter kon presteer het. "Ons verwag Saterdag tegnies 'n baie harde wedstryd. Ons voorspel dat hulle aanslag met hul agterspelers gaan kom en die leierskap van hul kaptein."
Van Wyk het gesê in die geskiedenis van die Superliga A het die beker nog nooit in Hessequa gaan staan. "Ons verwag hulle gaan totaal honger wees om te wen."
Volgens hom het Crusaders vanjaar talle rekords gebreek en opgestel. Só byvoorbeeld het hulle meer as 100 ligapunte ingesamel. Crusaders het ook vanjaar al hul wedstryde gewen behalwe een waarin hulle gelykop gespeel het teen die einste Heidelberg.
"Ons is slaggereed vir die wedstryd."
Julian Buis, voorsitter van Heidelberg RVK
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'