OUDTSHOORN NUUS - Die openingswedstryd in Multisure Corporation se rugbyfees die afgelope Saterdag op Outeniquapark tussen Knysna United en die All Blacks van Oudtshoorn het menige rugbyondersteuners se stoutste verwagtinge oortref.
Daar is stellig geglo dat die meeste van die 16 spanne wat in aksie was, verroes sou voorkom met van die spanne wat maar ’n flouerige voorseisoense voorbereiding agter die rug het.
Beide die All Blacks en Knysna United het van meet af aan die krane oopgedraai en die toeskouers met goeie, aanvallende hardlooprugby getrakteer. Ja, daar was foute aan albei kante, maar van onbeholpe hanteerwerk en aanslane, swak taktiese skopwerk en groot gapings in die verdediging is daar maar min gesien.
Vat vyf aan albei spanne vir 80 minute se skoon vermaak. Knysna het die rillerstryd met 35 - 34 gewen, maar die telling kon net sowel in die All Blacks se guns gewees het.
In die begin was die All Blacks effens op die agtervoet en het hulle veral gesukkel in die skrums. Knysna het dit deeglik uitgebuit en binne 20 minute met 15 - 0 voorgeloop. Maar, die All Blacks was geensins paniekerig nie en het hulself reggeruk en meer bestendig begin vertoon. Hul eerste drie het juis gekom ná ’n stewige skrum toe Michael Tyali, agtsteman en kaptein, die bal agter die skrum opgetel en dit vir Simon Mpofu gegee het om oor te val vir hul eerste drie.
Dit was ’n keerpunt, want toe het die Oudtshoorniete sterker meegeding en Knysna goed in toom gehou.
In die tweede helfte met die All Blacks hul versterkings met meer ervare spelers opgestuur. Dit het onmiddellik ’n positiewe uitwerking gehad toe hulle die skrums begin oorheers het en hulle die telling na 29 -29 kon opskuif.
Eaj Carew het met sy veggees saam met Bradford Hendricks die oond behoorlik gestook en ’n groter intensiteit in die spel gebring.
Twee strafskoppe laat in die wedstryd het die All Blacks se "wendrie" geskaakmat en kon Knysna United-ondersteuners ’n sug van verligting slaak.
Damon Gysman, voorsitter van All Blacks, het ná die wedstryd vir Group Editors se Hugo Redelinghuys gesê daar is ’n paar aspekte van hul spel waaraan hulle dringend aandag sal moet gee as hulle vanjaar mededingend in die SWD Superliga wil wees, “Ons sal moet kyk na ons besluitneming op die veld en ook ons verdediging moet opskerp. Ons sal ons voorhoede ook moet versterk anders so nie gaan ons sukkel teen die groot kanonne. “Ons is egter opgewonde oor die seisoen wat voorlê en belowe om nie net gesig te kom wys in die Superliga nie.”
Gysman sê hulle is tans bedrywig om kombinasies uit te toets en hulle is ook ernstig besig om spelers sielkundig voor te berei vir die komende seisoen wat voorlê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’