OUDTSHOORN RUGBY NUUS - Adias-rugbyklub het die afgelope naweek die span van korrektiewe dienste oortuigend met 42-24 gewen.
Adias het teen rustyd 27-12 voorgeloop.
Lionel Prinsloo, van Adias, sê hul waarnemende kaptein, Phillip Arries, het hom uitstekend van sy taak gekwyt.
"Hy het die span gedryf en gewys dat rugby nie net in die eerste helfte gewen word nie."
Voorlangs het Evan Scholtz (agtsteman), Shaun Solomons (slot), Danian Wagenaar (stut) en Roberto Mauton (flank) hul uitstekend van hul taak gekwyt terwyl Greg Jullies (heelagter), Charlton Prinsloo (vleuel) en Bradley Arries (losskakel) in die agterlyn 'n barshou gespeel het.
Julies en Charlton het elk een drie gedruk en Arries het drie keer die bal agter die doellyn neergesit. Charlton het vir seker ook sy goue skopskoen aangehad en het twee drieë verdoel en twee strafskoppe deur die pale gejaag.
Hulle speel Saterdag op die Rec teen Rangers van Dysselsdorp. Rangers is tans die voorlopers in die Karoo-streek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'