Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die immergewilde Zibi-sewestoernooi, aangebied deur Bridgton Senior Sekondêr (BSS) het Vrydag en Saterdag (28 en 29 Julie) vir skolerugby van uitstaande gehalte gesorg en toeskouers by die Bridgton-sportterrein in Oudtshoorn permanent op hul voete gehad weens die aksie.
Byna dertig verskillende skoolspanne het mekaar in die o. 13-seuns- , o. 16-seuns- en o. 19-seuns-ouderdomsgroepe op die rugbyveld die stryd aangesê, terwyl daar hierdie jaar weer 'n kompetisie vir o. 19-meisies plaasgevind het.
FOTOGALERY: Zibi-toernooi sorg vir groot opwinding
Die spanne het van Oudtshoorn en omliggende gebiede en so ver as Worcester en Victoria-Wes gekom. 'n Totaal van 13 plaaslike skole het meegeding.
Volgens organiseerder Deon Carelse van BSS, is daar behalwe die rugby 'n suksesvolle alumni-funksie aangebied. "Die toernooi, in sy tiende bestaansjaar, het 'n rekord getal toeskouers vir beide dae gelok en was die gees onder die toeskouers deurgaans elektries," het Carelse gesê.
Vrydag se wedstryde is volgens Carelse afgesluit met 'n borgefunksie by die Bridgton-sportterrein waar Fagmie Solomons, voormalige SARU-kaptein voorgestel en vereer is. "Fagmie wat WP in beide rugby en krieket verteenwoordig het, is deur Gary Boshoff, sy onderkaptein in 'n geskiedkundige eerste nie-rassige internasionale rugbytoets tussen SARU en Namibië in 1987, voorgestel. Zibi Sewes het Fagmie met 'n spesiale toekenning en gedig vereer," het Carelse gesê.
Carelse het gesê dat die rugby tydens die toernooi vuurwarm was en die plaaslike skole het baie goed vertoon. "Ongelukkig moes BSS se o. 19-span die knie buig teen 'n begeesterde Worcester Sekondêr in die beker-eindstryd. Die skool het egter Protea die loef afgesteek en met die o. 16-beker weggestap!"
Uitslae van die onderskeie eindrondes:
- o. 13 Beker - De Heide Primêr
- o. 13 Skild - Saturnus Primêr (Oudtshoorn)
- o. 13 Plaat - Laerskool Laurus (Oudtshoorn)
- o. 16 Plaat - Aurial Kollege (Oudtshoorn)
- o. 16 Beker - Bridgton Senior Sekondêr (Oudtshoorn)
- o. 19 Skild - Protea Hoër (Oudtshoorn)
- o. 19 Bowl - Villiersdorp Sekondêr
- o. 19 Plaat - Swellendam Sekondêr
- o. 19 dogtersbeker - Parkdene Sekondêr
- o. 19 seunsbeker - Worcester Sekondêr
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’