OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Eden-straatmylreeks vind vanjaar weer vanaf 16 Desember plaas wanneer dit afskop in Oudtshoorn met die Klein-Karoo-straatmyl wat in Baron van Reedestraat plaasvind.
Die reeks word op 18 Desember in Hartenbos met die ATKV-straatmyl afgesluit. Die Swartberg-baanmylwedloop val dus vanjaar weg.
Meer as R40 000 se prysgeld is op die spel. Die hoofborge is Noord-Wes Universiteit, ATKV Hartenbos en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport. Addisionele borgskappe en bystand word verleen deur Oudtshoorn Ford, Surval, Kleinplaas, Karoopot, ASWD, ASICS, Top Gear, EDENfm, CKI, Mosselbaai-munisipaliteit (burgemeesterskantoor), Groter Oudtshoorn-munisipaliteit en natuurlik die vrywilligers.
In 2022 was die standaard van die wenners weereens uitstaande met Nkosinathi Sibiya van die Universiteit Johannesburg wat in Oudtshoorn beide die Klein-Karoo-straatmyl (3:59.19) en die Swartberg-baanmyl (3:58.95) in droomtye gewen het.
Charné Swart (Tuks) wen die damesstraatmyl in 4:37.26 terwyl die immergroen Kesa Molotsane (Murray & Roberts) die baanmyl in 4:55.92 wen.
By die ATKV-sraatmyl in Hartenbos het Nkosinathi Sibiya sy staal getoon op ‘n moeilike baan en met 4:04.97 gewen terwyl Charné Swart die dameswedloop in 4:59.76 ingepalm het. Beide die twee atlete is ook aangewys as die Grand Prix-wenners vir 2022.
Heelwat junior atlete het ook na vore getree tydens hierdie wedlope en het na vore gekom as atlete om dop te hou vanjaar.
Die status van straatmyle binne wêreldatletiek is verhoog deurdat World Athletics dit bygevoeg het tot die nuwe wêreldpadkampioenskappeprogram wat vanjaar vir die eerste keer in Latvia aangebied is en waarvan die Eden-straatmylreeks se wenners en rekordhouers, Ryan Mphahlele en Carina Viljoen deel was. Die Eden-straatmylreeks bied nou aan atlete die geleentheid om die Atletiek SA keurders te beïndruk vir insluiting in SA spanne.
Die Klein-Karoo-atletiekfonds doen ook baie op die ontwikkelingsfront en word beginnersatlete aangemoedig om ook deel te neem. Atlete kan in vyf ouderdomskategorië in die Eden-straatmylreeks meeding - Jong Talent (gebore in 2009-2014), Jeug (gebore in 2006-2008), Junior (gebore in 2004-2005), Ope en 40+. Daar is ook ‘n prys vir die beste ASWD-mans en -damesatleet.
‘n Potjiekosete wat ‘n kenmekaar insluit, word oudergewoonte by Kleinplaas op 16 Desember aangebied. Meer inligting rakende die wedlope asook inskrywingsvorms is op www.edenmiles.co.za en op Facebook beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo-nuus'