OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn is besig om sy tweekamp-vere reg te skud vir die 49ste SA tweekampkampioenskappe wat op 21 Maart by die De Jager-sportkompleks en NA Smit-swembad aangebied word.
Volgens Dave van der Walt sal altesaam 862 van die land se topatlete vir podiumplekke en beste tye meeding. Dit is die vierde keer dat Oudtshoorn die kampioenskappe aanbied, en ná vyf SA rekords wat in 2025 hier verbeter is, vestig die dorp hom al hoe meer as 'n voorkeurbestemming vir nasionale byeenkomste.
Tussen 3 000 en 4 000 toeskouers word verwag, met 'n beraamde ekonomiese inspuiting van sowat R10 miljoen vir die plaaslike ekonomie.
Onder die deelnemers is van die land se voorste tweekampatlete, insluitend Johan Windt, Pierre Spies, Judah Spies, Marsel Roos, Cornel Kruger, Keyla Douglas, Jeandre Swanepoel, asook Inaya Mouchilli, Mia Schellink en Eli Kannemeyer.
Tydens die kampioenskap word daar nie net op individuele prestasies gefokus nie, maar word die land se toptweekampskole ook aangewys. In 2025 het Eden uitstekend gevaar, met Laerskool Outeniqua wat tweede geëindig het en Hoërskool Punt wat 'n bronsmedalje verower het.
Program
Die verrigtinge skop reeds Vrydagmiddag, 20 Maart, af met die amptelike opening om 16:00 op die atletiekbaan by De Jager-sportkompleks. Vooraf vind die spanbestuurdersvergadering (12:00), amptelike spanfoto's (vanaf 13:00) en die verbymars van die 14 provinsiale spanne plaas. Genooide gaste woon daarna die presidentsfunksie by.
Saterdag se program begin om 07:00 (opwarming vanaf 06:30), gevolg deur swemitems om 10:00 en weer om 13:30. Die dag se verrigtinge word afgesluit met 'n galafunksie by Highgate-volstruisplaas om 19:00, waar pryse oorhandig gaan word en deelnemers saam kan kuier. Meer as 1 000 gaste het reeds hul bywoning bevestig.
Om die byeenkoms vlot te laat verloop, is sowat 140 beamptes van regoor Suid-Afrika betrokke.
Gaste
Verskeie hoogwaardigheids-bekleërs sal die opening bywoon, waaronder die waarnemende burgemeester, Zoë Tyatya, Desmond Speelman (voorsitter van Eden-sportraad), Jean Neethling (distriksbestuurder van die departement sport en kultuur) en Gerhard Louwrens, (president van SA tweekamp), saam met provinsiale verteenwoordigers, borge en eregaste.
Intussen is dit reeds bevestig dat Oudtshoorn en Eden-tweekamp ook die 50ste SA tweekampkampioenskappe in 2027 sal aanbied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’