OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die 11de Timbercity-fietstoer het verlede Sondag onder die aanmoediging van 'n groot skare by die Route 62 Bar en Grill Restaurant weggespring waar dit ook geëindig het.
Hooggeplaastes soos Anroux Marais, minister van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport en David Bellairs, direkteur van die Cape Town Cycle Tour was ook teenwoordig by die fietswedren.
Meer as 200 deelnemers het dié gewilde wedren se verskeie afstande van 104 km, 57 km en 30 km voltooi wat vanjaar ook 'n 91 km grondpadwedren ingesluit het.
Die 104 km was ook 'n keuringswedren vir die bekende Cape Cycle Tour. John-Pierre Weideman was die wenner van die 104 km in die mansafdeling met 'n blitsige tyd van 2:46:28.
Kort op sy hakke was Daniel Loubser en Tristan Nortjé wat onderskeidelik tweede en derde geëindig het.
Die vrouewedloop is deur Anriette Schoeman, bekende in fietsrykringe, in 'n tyd van 3:26:01 gewen.
Schoeman se oorwinning was ook tot dusver in die geskiedenis van die Timbercity-fietstoer haar 10de sege uit 'n totaal van 11 wedrenne.
Jessie Munton was in die tweede plek en Juanita Mackenzie derde.
Ronald Erasmus al die pad van Saudi Arabia om in die 104 km deelteneem. Hy het die 50 tot 54 jaar ouderdomsgroep gewen.
Anriette Schoeman blitsig op pad na die wenstreep.
Sinead Hattingh en Marco Pohl het die 30 km met hulle tandemfiets aangedurf. Foto's: Sinaed Hattingh
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'