OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-fietsryklub se deelname aan die jaarlikse Coronation Double Century wedren het Woensdagaand 'n groot hupstoot gekry toe die plaaslike Test Flying Academy of South Africa (TFASA) 'n tjek van R6 000 aan die span oorhandig het.
Die wedren skop Saterdagoggend omstreeks 06:28 in Swellendam af en beslaan 'n stewige totaal van 202 km.
Hierdie sirkelroete begin by Swellendam en ry dan deur Suurbrak, Tradouwpas, Op de Tradouw, Ashton, Barrydale, Robertson en Bonnievale waarna die fietsryers weer terugkeer na die beginpunt.
Ongeveer 250 klubs van oor Suid-Afrika het vanjaar ingeskryf vir die wedren.
Volgens Jaco von Molendorf, spanlid van Oudtshoorn-fietsryklub, is die hele span oorgehaal en opgewonde om aan die strawwe wedren deel te neem. "Ek en Errol Pretorius was vanjaar van ons fietse afgery deur motors.
"Gelukkig het ons volkome herstel van ons beserings nadat ek my gewrig op twee plekke gebreek het en oom Errol 'n operasie aan sy gebreekte enkel moes ondergaan het," het von Molendorf skertsend gesê.
"Ons passie vir fietsry is egter nog lank nie geblus nie en ons kan nie wag om Saterdag weg te spring nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'