OUDTSHOORN – Verskeie plaaslike sportkodes wat netbal, golf, rugby, veerpyltjie, fietsry, skopboks en karate insluit, het Dinsdag tydens 'n oorhandigingseremonie gesamentlik 'n tjek van R280 000 van die Oudtshoorn-munisipaliteit ontvang.
Volgens Ian Laubscher, (Oudtshoorn-munisipaliteit sportontwikkelings-beampte), is hierdie begroting (R280 000) deur die munisipaliteit beskikbaar gestel om sportontwikkeling te bevorder.
Laubscher het tydens sy spreekbeurt verduidelik dat dit die Oudtshoorn-munisipaliteit se beleid is om slegs 50 % van individue se totale uitgawes by te dra wat aan nasionale kampioenskappe deelneem, 25% in die geval van Wes-Kaapse byeenkomste en R5 000 vir internasionale deelname.
Benewens dit bewillig die munisipaliteit ook R30 000 (internationaal), R20 000 (nationaal) en R10 000 (provinsiaal) vir sportvederasies wat byeenkomste aanbied.
"Ongelukkig kan die Oudtshoorn-munisipaliteit nie blameer word as hulle net 'n kleiner gedeelte of niks kan gee nie; alles hang af van die beskikbaarheid van die begroting," het Laubscher beklemtoon.
Ranger-skopboksklub en Eden-fietsryers het ook afsonderlik 'n spesiale toekenning aan die Oudtshoorn-munisipaliteit oorhandig om hulle waardering vir dié finansiële ondersteuning te betuig. Tydens dieselfde geleentheid het die munisipaliteit ook gholftoerusting aan Sergio Arries oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'