OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se bekende fietsry-administrateur, Sonja Schultz, is genomineer vir Sportadministrateur van die Jaar by die 19de jaarlikse SA Sporttoekennings.
Schultz is al bykans 10 jaar by die administrasie van fietsry betrokke. Haar liefde vir die sport het ontstaan toe haar kinders begin fietsry het.
Sy dien tans as sekretaresse van Eden-fietsry en Wes-Kaap-fietsry, en is ook die hoof van SA fietsry se vrouekommissie.
Haar betrokkenheid by die sport neem haar ook internasionaal. Van 22 tot 29 Augustus sal Schultz as bestuurder van die Suid-Afrikaanse span optree wat aan die 2026 UCI Bergfietswêreldkampioenskappe in Val di Sole, Italië, deelneem. Die kampioenskappe vind van 26 tot 30 Augustus in die Trentino-streek plaas.
Hoewel Schultz nie self fietsry nie, het sy ’n groot passie vir die sport.
“Ek het myself maar die sport geleer en baie hulp gehad van mense soos Corné Bence, bloot omdat my kinders daarby betrokke was. Ek het net aangehou daarmee,” sê sy.
Vir Schultz is haar betrokkenheid veel meer as net administrasie. Sy sê een van die dinge wat sy die meeste geniet, is om saam met fietsryers te droom en hul doelwitte te help verwesenlik.
“Wat ek die meeste geniet, is om saam met die fietsryers te droom. Jy is saam met hulle in hulle gelukkigste oomblikke, elke rekord, elke persoonlike beste en elke mikpunt wat hulle vir hulself stel.”
Volgens Schultz is dit veral lonend om kinders te sien groei en sukses behaal nadat hulle hard daarvoor gewerk het.
“Dit is heerlik om te sien wanneer hulle dit waarvoor hulle oefen regkry. Ons is ook daar in hul hartseer oomblikke wanneer hulle nie bereik wat hulle wou nie.”
Sy glo dit is belangrik om jong fietsryers te leer dat hulle eie perke dikwels deur hulself bepaal word.
“Ons probeer die kinders leer dat hulle hulle eie limiete stel. As jou droom jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie.”
Schultz sê dit is vir haar iets besonders om te sien hoe fietsry voortdurend ontwikkel, en veral hoe meer vroue by die sport betrokke raak.
“Dis lekker om te weet dat jy ’n verskil maak en die verskil kan sien. Daar is baie uitdagings, maar ek is mal daaroor om uitdagings aan te pak.”
Vir Schultz is die nominasie vir sportadministrateur van die jaar ’n erkenning van bykans ’n dekade se toewyding aan ’n sport waarvan haar betrokkenheid aanvanklik bloot uit haar kinders se liefde daarvoor ontstaan het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’