OUDTSHOORN NUUS - Vir Rozelle Otto is die netbalbaan die plek waar sy haarself voortdurend uitdaag, en haar nuutste uitdaging wag van 4 tot 9 Oktober in Gqeberha.
Dié Laerskool Wesbank-onderwyser, afrigter, skeidsregter en gradeerder neem dan nog 'n groot tree in haar skeidsregtersloopbaan wanneer sy by die Nasionale Mansnetbalkampioen-skappe as skeidsregter optree.
Die kampioenskappe bring mansspanne van regoor die land byeen en bied spelers die geleentheid om op nasionale vlak mee te ding. Vir 'n skeidsregter is dit 'n besondere geleentheid, met mansnetbal wat weens die hoë tempo en fisieke intensiteit groot eise aan skeidsregters stel.
"Die mans is ongelooflik fiks en die wedstryd is verskriklik vinnig. Dit is drie wedstryde van 60 minute elk 'n dag. Dit is 'n lekker uitdaging vir enige skeidsregter en teen die einde van so 'n dag voel mens dit nogal aan jou lyf omdat jy heeltyd saam met die spelers moet beweeg," sê Otto.
Haar nasionale aanwysing volg nadat sy vroeër vanjaar deur Wes-Kaap-netbal goedgekeur is om as gradeerder op te tree. Sy het ook haar NSA-B-skeidsregkwalifikasie voltooi en is as die netbalvoorsitter in Oudtshoorn aangewys.
Maar Otto se ambisie strek verder. Haar groot droom is om haar internasionale skeidsreggradering te verwerf en uiteindelik internasionale wedstryde te blaas.
Netbal is al van skooldae af 'n passie. Sy het self gespeel, maar nadat sy besef het dat haar lengte haar moontlik sou beperk, het sy haar fokus na afrigting en skeidsreg verskuif.
Sy het haar afrigtingsloopbaan by Laerskool Park in Mosselbaai begin, waar sy ook by netbal betrokke was.
"'n Ouer het my eendag langs die veld bevraagteken oor 'n beslissing wat ek gemaak het, en ek het daar besluit ek gaan my skeidsreggraderings doen."
Volgens Otto verg skeidsreg op hoë vlak nie net kennis van die spel nie, maar ook uitstekende fiksheid en voorbereiding.
"Eerstens moet jy ongelooflik fiks wees en moet jy met gemak op die baan kan beweeg en by die spelers hou. Dan moet jy die eksamens ook skryf. Dit is lank en jy moet 85% hê om te slaag."
Otto is egter nie iemand wat vir 'n uitdaging terugstaan nie. Sy gryp dit eerder met albei hande aan.
"Ek hou nie van verloor nie en glo dat wanneer ek iets begin het, ek dit moet klaarmaak. Ek wil graag die beste wees in wat ek doen. Ek druk myself hard, maar die prestasie aan die einde is absoluut die moeite werd. Ek wil myself verbeter en bevorder sover ek moontlik kan."
Volgens Otto sou haar prestasies ook nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van Laerskool Wesbank en haar mentor, René Blom, 'n NSA-A-gegradeerde skeidsregter, nie.
Ten spyte van 'n reeds vol program, het Otto nog 'n doelwit: om Oudtshoorn se netbalklub weer op die been te bring.
"Ons is die enigste dorp in die streek wat nie 'n netbalklub het nie. Ons het jare terug een gehad, maar dit het doodgeloop. Ek wil netbal in ons streek bevorder, nie net vir volwassenes nie, maar vir ons kinders ook."
Volgens Otto is daar baie talent in die streek, maar spelers het nie altyd genoeg geleenthede om hulself teen sterker kompetisie te meet nie.
"Ons kinders het soveel talent en poten-siaal, maar hier is nie baie ruimte vir hulle om mee te ding teen sterker spelers en hul eie limiete te toets nie. Ek wil dit graag in ons streek bevorder."
- Enigiemand wat by die Oudtshoorn-netbalklub betrokke wil raak, kan Otto by 073 342 7742 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’