OUDTSHOORN NUUS - 'n Rekordgetal van 191 nominasies is ontvang vir die Eden-sporttoekennings.
Die sporttoekennings vind op Vrydag 27 Julie in die Oudtshoorn-banketsaal plaas. Dave van der Walt, Eden-sportraad se sekretaris sê: "Vir die 31 kategorieë het 30 sportfederasies nominasies ingedien. Meeste van die genomineerdes het Suid-Afrika al verteenwoordig."
Die Oudtshoorn-munisipaliteit speel vanjaar gasheer vir die aanbied van die toekennings. Eden-sportraad, die departement van kultuursake en sport (DKES) is die ander ankervennote vir die geleentheid.
Volgens Van der Walt het die organiseerders daarin geslaag om Ashwin Willemse, oud-Springbok-rugbyspeler en SuperSport-kommentator, as gasspreker te bekom. EDENfm, radioborg, sal die verrigtinge direk uitsaai.
Die amptelike sluitingsdatum was 22 Junie 2018 en 'n rekord getal van 191 nominasies van hoogstaande gehalte, is vir die 31 kategorieë van 30 federasies ontvang. In sommige kategorieë is meer as 10 nominasies, waarvan die meeste al Suid-Afrika verteenwoordig het, ontvang wat dit beslis nie maklik gaan maak vir die beoordelingspaneel nie!
Top-sportpresteerders wat genomineer is, sluit in Jovan Rebula (gholf: pas die Britse Amateurtitel gewen), Trevor Davis (Rolbal: World Bowls Law Committee, Umpire at Commonwealth, Australië), Meike Strydom (junior atletiekster), Elma Davis (Rolbal: Silwermedalje – Commonwealth Game, Australië), Claudio Miller (Lewensredding: Spanbestuurder SA Junior Span, Australië), Janine Kotze (Pluimbal: Umpire Australian Open), Michelle Groves (Netbal: SA Skolespan na Australië), Jean du Plessis (Krieket: SA o.19-span na Junior Wêreldbeker).
Sportprestasies tussen 1 September 2017 en 22 Junie 2018 word in ag geneem.
Die wenners van die kategorieë wat in ooreenstemming is met die van Wes-Kaap, word outomatiese finaliste vir die Wes-Kaap Sporttoekennings wat op 25 Augustus 2018 plaasvind.
Alle Eden-sportfederasies, Munisipale-sportrade en Eden-skole is uitgenooi om hulle topsportpersone, afrigters en administrateurs te nomineer – daar is soveel talent in die Eden-distrik.
"Daar was al die afgelope jaar soveel topprestasies deur sportpersone uit die Eden-distrik gelewer. "Ons gholfspelers, fietsry, rolbal, toutrek, krieket, atletiek, seiljag, moderne vyfkamp - om maar net 'n paar te noem."Van der Walt sê Eden kan spog met 'n trotse rekord oor die afgelope jare van al die sportlui wat as Wes-Kaapse wenners bekroon is.
Elma Davis, SA-rolbalspelers is ook genomineer.
Hulle sluit in SWD-krieket en Eden-fietsryfederasie, Blaine Dodds (sportman), Corné Bence (administrateur), Bianca Buitendach (sportvrou), Shanigue Loggenberg (junior sportvrou), Anél Oosthuizen (junior sportvrou), Henry Rhoode (vrywilliger), Immiraan Malgas (inheemse sportster), Oudtshoorn Vaardigheidskool (ontwikkelende skool), Georgou Divaris (skole sportman), Trevor Davis (ministeriële toekenning), Lee Arries (ministeriële toekenning), André Stander (joernalis), Jordan Duminy (skole sportman), Jessica Gerber (junior sportvrou), Oakdale Landbouskool), Lee-Ann Pace (sportvrou), Christo Vermaak (sportjoernalis), Gerhard Jooste (sportfotograaf), Christelike Jeugforum (Phillip Seroux - reakrasieliggaam), Eden inheemse spelespan (inheemse span - Kgati), Heidedal Primêre Skool se landloopspan (ontwikkelings skolesportspan).
Vir enige verdere inligting kan die voorsitter van die reëlingskomitee, Rudi Claassen (083 500 4877 / rudolphclaassen9@gmail.com) of die sekretaris, Van der Walt (082 773 4901 / sportcouncil.eden@gmail.com) of Dirk van der Westhuizen (044 272 6165 / dirk.vanderwesthuizen@westerncape.gov.za) gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'