Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die laaste plaaslike kwalifiserende cipher-stryd van die wêreld se mees gesogte briekdanskompetisie - Die Red Bull BC One, het die naweek in Oudtshoorn plaasgevind.
Tydens die kompetisie het die beste briekdansers uit die Wes-Kaap geveg vir 'n plek om hul tuisdorp by die nasionale eindstryd te verteenwoordig.
Die cipher-naweek wat in die Toekomsrus-gemeenskapsaal gehou is, het begin met 'n reeks werksessies waarin die land se topbriekdansers soos Courtnae Paul en Vouks verskillende onderwerpe oor die kultuur van briekdans en wat agter die skerms op die hoogste vlak gebeur, met die gehoor bespreek.
Fotogalery: Red Bull BC One in Oudtshoorn
Die tweede deel van die dag het bestaan uit die kwalifiserende cipher waar b-girl Lee en b-boy Da Vinci as oorwinnaars gekroon is.
"Ek wou nog altyd hê dat Red Bull hier op Oudtshoorn moes wees, en toe dit gebeur, was dit soos 'n droom wat waar geword het. Dit was 'n eye-opener vir baie b-boys wat hul passie vir die kultuur verloor het, veral onder ons jeug. Ek is positief dat ek teen die beste kan dans en hopelik kan ek my dorp trots maak.
Die Oudtshoorn-cipher het net weereens gewys dat harde werk beloon word. Ek is vasbeslote om dieselfde energie na die Red Bull BC ONE SA-eindronde in Kaapstad te bring," het b-boy Da Vinci gesê.
Volgens b-girl Lee was sy baie opgewonde om uiteindelik deel te kon neem aan hierdie soort kompetisie op Oudtshoorn. "Dit was lekker om voor my vriende en familie te kon battle. Ek sien uit na die eindronde sodat ek ander b-meisies kan ontmoet en van die ervaring kan leer," het sy bygevoeg.
Die laaste been van dié kompetisie is die nasionale eindstryd wat op Saterdag 24 April in Kaapstad plaasvind.
Die wenners van die nasionale toekennings sal dan in November 2021 aan die Red Bull BC One World Final in Gdañsk, Pole, deelneem.
B-boy DaVinci
b-girl Lee
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'