OUDTSHOORN NUUS - "Ons is totaal oorweldig, dit was glad nie iets wat ons verwag het nie," sê 'n trotse Nadia Britz, stigter en eienaar van Pro Academy, 'n dansakademie in Oudtshoorn wat die afgelope naweek twee tweede plekke by vanjaar se Suid-Afrikaanse trompoppie en rasieleiervereniging (Samca) nasionale kampioenskappe, asook by die ICU (International Cheer Union) Afrika-kampioenskappe verower het.
Die kampioenskappe het op 4 Julie in Oudtshoorn begin en vind by die rekreasie-sportterreinde plaas.
Wat hierdie prestasie des te meer merk-waardig maak, is dat dit Pro Academy se heel eerste deelname aan beide hierdie gesogte kompetisies was.
"Ons het bloot gegaan om dit te geniet. Ek sê altyd: 'Do your best, God will do the rest.'"
Pro Academy het aan die hip-hop-afdeling van beide kampioenskappe deelgeneem. Britz verduidelik dat hulle eers kort voor die Samca-kampioenskappe van die geleentheid gehoor het en gevolglik baie min tyd gehad het om voor te berei.
"Ons het die kans gevat. Die kinders het ongelooflik mooi en hard saam met my gewerk, en my voormalige leerder en huidige assistent, Zilka Weise, het gehelp om die groep fyn af te rond," sê sy.
Die akademie bestaan tans uit 11 hoër-skoolleerders, almal van Langenhoven Gimnasium, en Britz doen self al die choreografie. Hoewel sy nie aanvanklik met groot verwagtinge aan die kampioenskappe deelgeneem het nie, het sy en haar span met groot drome en blink toekomsplanne weggestap.
"Volgende keer mik ons vir eerste plek!"
Die Samca nasionale kampioenskappe is die grootste geleentheid van sy soort in Suid-Afrika vir trompoppies en rasieleier. Spanne van oor die land neem jaarliks deel in verskeie kategorieë, insluitend dans, pom-poms, en hip-hop, met streng beoordeling op tegniek, samewerking en uitvoering. Hierdie kampioenskappe bied deelnemers die geleentheid om hul vaardighede op 'n nasionale platform te wys en om vir internasionale kompetisies te kwalifiseer.
Die ICU Africa Cup, georganiseer deur die International Cheer Union, die wêreldwye liggaam vir rasieleiers, bring van die topspanne van die kontinent byeen en bied 'n arena vir elite-presteerders om internasionale ervaring op te doen. Deur tweede te eindig, het Pro Academy hulself gevestig as een van die beste op die vasteland.
Pro Academy rus egter nie op hul louere nie. Die groep is volgende op pad na Mosselbaai, waar hulle op 2 Augustus aan die Dance For Growth-kompetisie sal deelneem.
Oudtshoorniete sal hulle ook in volle glorie kan sien optree tydens hul jaarlikse produksie To God the Glory, wat op 1 en 2 Augustus om 18:00 in die Oudtshoorn-burgersentrum plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’