OUDTSHOORN NUUS - Renjaers van Oudtshoorn-motorklub het Saterdag in die laaste van ses ovaalbaanwedrenne vir die jaar die geleentheid gekry om punte los te jaag in die Oudtshoorn-klubkampioenskappe.
Altesaam 56 renjaers van Oudtshoorn-motorklub, George-motorklub, PE Oval Track Racing en Mega Oval Worcester het in agt klasse meegeding.
Saterdag se byeenkoms, gehou op die Arnold de Jager-ovaalbaan buite Oudtshoorn, was die laaste byeenkoms van die jaar. Die eerste byeenkoms van 2026 vind op 3 Maart plaas.
Terwyl die Oudtshoorn-renjaers gejaag het om hul klub se kampioene van die jaar te bepaal, het renjaers van die ander klubs kom deelneem om goeie kompetisie te bied en te wys wat in hulle steek. Een van die klasse, die Ninja Rods, is vir renjaers tussen 10 en 15 jaar.
Die Oudtshoorn-renjaers het Saterdag ook ses van die klasse vir die dag gewen.
Die wenners was Burger van der Westhuizen (2.1 Modified Saloons), Johan Kuyler (Hot Rods), Lucius Fourie (V8 American Saloons), Hendricus Botha (1660's), Pieter la Grange (Ninja Rods) en Gerrit du Plessis (RWD Legends).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’