OUDTSHOORN NUUS - 'n Splinternuwe vyfdag-bergfietstoer word in Mei 2018 vir die eerste keer in die Suid-Kaap aangebied.
Die Trans Outeniqua-bergfietstoer word van 23 tot 27 Mei 2018 deur Trisport in samewerking met die Gourits Groepsbiosfeerreservaat (GCBR) aangebied.
'n Groep fietsryers het die roete die afgelope naweek oor drie dae beproef en die roete gefinaliseer.
Die roete van 336 km loop deur gebiede wat deel vorm van die GCBR:
Dag 1: Pine Creek-vakansieoord, Groot-Brakrivier tot Dwarsrivier Gastehuis, Dwarsrivier
Dag 2: Dwarsrivier tot Rooiberg Lodge, Van Wyksdorp
Dag 3: Rooiberg Lodge tot De Denne-Gastehuis, Volmoed
Dag 4: De Denne-gastehuis tot Herold Wynlandgoed, Herold
Dag 5: Herold tot Pine Creek-vakansieoord, Groot-Brakrivier
Die nie-tegniese roete, wat vir bergfietse en CycloCross-fietse geskik is, bestaan hoofsaaklik uit grondpaaie, insluitend twee-spoorpaaie of Jeep tracks, en kort stukkies stil teerpad.
Volgens Sonja Otto van Trisport gaan die aantal deelnemers aanvanklik tot 50 beperk word.
"Ons wil hê die fietsryers moet die omgewing waardeur ons ry werklik ervaar."
Ten einde die ervaring te versterk, sal lede van die GCBR op die vooraand van elke skof verduidelik wat die volgende dag se roete insluit met betrekking tot topografie, plantegroei en wildlewe, asook die sosio-ekonomiese agtergrond van die verskillende gemeenskappe in die gebiede.
Die doel van die GCBR se betrokkenheid is tweërlei, naamlik bewusmaking en fondsinsameling.
"Ons wil mense bewus maak van wat die GCBR behels en wat die doelstellings daarvan is," sê Mary Carr van die GCBR. "Ons wil ook fondse insamel om die GCBR te bevorder deur opgradering en instandhouding van bestaande infrastruktuur, bewusmakingsprogramme, en deur projekte wat gemeenskappe bevoordeel."
Fietsryers en organiseerders van die Trans Outeniqua-bergfietstoer, wat die afgelope naweek die fietstoer se roete gefinaliseer het. Foto verskaf.
Koste beloop R7 900 en sluit verblyf in gastehuise en tente, asook ontbyt, middagete en aandete in.
Die groep word vergesel van 'n fotograaf, videograaf, mediese personeel en fisioterapeute, 'n tegniese span en 'n besemwa. Daar sal ten minste twee waterpunte op elke skof wees.
Die organiseerders sal deelnemers se bagasie na die volgende oornagpunt vervoer.
Al is die fokus nie op kompetisie nie, sal daar tog pryse wees vir die eerste drie mans en vroue wat die eindstreep oorsteek.
Skryf in vir die Gouritsbiosfeer-Trans Outeniqua op Trisport se webblad www.trisport.co.za, kontak Sonja Terblanche-Otto by 082 579 7595 of sonja@trisport.co.za of Janine Swart by janine@trisport.co.za.
Besoek die webblad by www.gouritz.com vir meer inligting oor die GCBR.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'