OUDTSHOORN NUUS - Die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) het die aanstelling van Corné Botha van Jakhals Events as sy nuwe operasionele bestuurder aangekondig. Botha het amptelik op 1 Mei sy nuwe rol aanvaar.
Volgens die voorsitter van KKAF, Hans van der Veen, neem Botha 'n pos oor wat oor baie jare deur Dave van der Walt, wat 'n bepalende rol in die groei van atletiek in die Klein-Karoo gespeel het, gevorm en gevestig is.
'n Pionier neem afskeid
Volgens Van der Veen strek Van der Walt se betrokkenheid by KKAF terug na 2009, toe die organisasie sy eerste treë gegee het met die destydse Yellow Pages Vakansie-Atletiek en Klein-Karoo-straatmyl.
"Wat as 'n beskeie gemeenskapsinisiatief begin het, het onder sy operasionele leiding ontwikkel tot die bekende Eden-straatmylreeks wat dit vandag is - 'n nasionaal erkende atletiekgeleentheid wat deelnemers van regoor Suid-Afrika lok."
Benewens logistieke en administratiewe verantwoordelikhede, waaronder veiligheids-beplanning, borgskapontwikkeling en mediakoördinering, lê Van der Walt se grootste nalatenskap, volgens Van der Veen, in die mense wat hy oor die jare gehelp ontwikkel het.
"Hy het 'n kultuur van dissipline, uitne-mendheid en gemeenskapstrots gevestig wat steeds voortleef. Dave was vir meer as 'n dekade die ruggraat van ons werksaamhede. Hy het nie net geleenthede bestuur nie, maar iets blywends opgebou. Ons spreek ons opregte dank uit en wens hom alle voorspoed toe met sy welverdiende aftrede," het Van der Veen gesê.
Die bestuur, borge, atlete en die breër Klein-Karoo-hardloopgemeenskap het ook hul waardering uitgespreek vir Van der Walt se merkwaardige bydrae tot plaaslike atletiek.
Die stokkie word oorgedra
KKAF is vol vertroue dat die organisasie se tradisie van uitnemendheid onder Botha se leiding sal voortduur. Botha en sy maatskappy, Jakhals Events, is reeds meer as 'n dekade lank betrokke by die Eden-straatmylreeks as diensverskaffer en beskik oor uitgebreide ervaring in die aanbieding van sport- en gemeenskapsgeleenthede.
In sy nuwe rol sal Botha verantwoordelik wees vir die volledige operasionele koördi-nering van KKAF se vlagskipgeleenthede, waaronder die Eden-straatmylreeks en die Klein Karoo Sake-Aflos, asook kommunikasie, borgskapontwikkeling, openbare betrekkinge en mediasamewerking.
"Dit is 'n groot voorreg en eer om hierdie rol te aanvaar. Dave van der Walt laat reusagtige skoene agter, en ek het groot respek vir wat hy opgebou het. My doel is om dié nalatenskap met dieselfde passie voort te sit en die Eden-straatmylreeks verder te laat groei tot 'n geleentheid waarop die hele Klein-Karoo trots kan wees," het Botha gesê.
Oor die Eden-straatmylreeks
Die Eden-straatmylreeks, aangebied onder die vaandel van die Klein Karoo Atletiek-fonds, het sedert 2009 gegroei tot een van Suid-Afrika se voorste straatmylreekse.
Die reeks word jaarliks in Oudtshoorn, George en Hartenbos aangebied en lok elite atlete sowel as plaaslike deelnemers van alle ouderdomme en vermoëns.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’