Waar sake verlede jaar op die plaaslike gholfbaan uitgespook is, het 14 spanne mekaar die afgelope Dinsdag op die rolbalbaan aangevat.
Kobus Theron, senior takbestuurder van Klein Karoo LandMark Oudtshoorn, vertel dat verskaffers jaarliks hul beursies oop maak om die besonderse dag aan te bied. "Die doel van die dag is om verskaffers en kliënte te betrek en skenkings aan behoeftige instansies te maak, hetsy finansieel of materieel van aard."
Volgens Theron het vanjaar se rolbaldag 'n unieke uitdaging gebied, veral omdat talle deelnemers Dinsdag vir die eerste keer aan die sport deelgeneem het. "Ons kon elke deelnemer met 'n prys beloon. Almal was ook baie beïndruk met die toestand van die rolbalklub se bane en die geriewe." Theron het ook vir Soon Potgieter en Christa Starke van die rolbalklub bedank vir hul ondersteuning.
Na afloop van verlede jaar se verskaffersdag is skenkings deur Klein Karoo LandMark aan Oudtshoorn-gholfklub, Besige Bytjies-kleuterskool, ACVV Tuishuis Siekeboeg en Oudtshoorn-dierewelsyn gemaak.
Vanjaar word beoog om geld aan Oudtshoorn-rolbalklub, Besige Bytjies-kleuterskool, Vreugde Voetjies-kleuterskool en Agri Kangovalleie beskikbaar te stel.
Aksie op die baan
ARTIKEL EN FOTO'S: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'