TUINROETE DISTRIKSNUUS - Jakkalsvlei-wynplaas op Herbertsdale hou vanjaar hulle pretdraf ten bate van 'n plaaslike skool wat in die knyp is.
Die Hemelrood-onderrigsentrum akkommodeer pre-primêre leerders tot en met graad 3.
"Kinders het 'n groot belang vir die gemeenskap met die oog op die toekoms, daarom fokus ons op 14 November tydens die pretdraf op positiwiteit en kinderingesteldheid," verduidelik 'n woordvoerder vir die wynplaas.
Sondag, 14 November is ook Wêrelddiabetesdag en daar word beplan om bewusmaking oor hierdie siekte onder veral kinders te doen. "Marilie van der Merwe, kinderboekskrywer en eienaar van 'n LeesLisa Uitgewery het ons genader om deel van haar diabetes-bewusmakingsinisiatief te word." Van der Merwe doen ook op die dag 'n boekvoorlesing en stel haar jongste boek bekend. Jakkalsvlei se splinternuwe spyskaart vir diabete, wat deur hierdie boek geïnspireer is, word ook op die dag bekend gestel."
Bekende sanger Leah tree ook tydens die geleentheid op.
Deelnemers aan die 6km-pretdraf spring om 09:00 weg. Inskrywings kan vooraf of op die dag gedoen word. Die eerste 300 inskrywings ontvang 'n geskenksakkie en die eerste 500 deelnemers oor die eindstreep ontvang 'n verrassing. Geen tye word opgeneem of medaljes uitgedeel nie.
Gelukstrekkings word gedoen en die inskrywing sluit reeds een gelukstrekkingskaartjie in. Nog kaartjies is by die geleentheid beskikbaar wat jou kans om 'n groot prys te wen, kan verbeter.
"Die Herbertsdale-gemeenskap borg ook een groot gesamentlike prys wat opgeveil sal word. Alle winste en bydraes op die dag word aan die Hemelrood-onderrigsentrum geskenk."
Om in te skryf, besoek www.jakkalsvlei.co.za of vir verdere inligting skakel (044 333 0222) of stuur 'n e-pos na events@jakkalsvlei.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'