OUDTSHOORN NUUS - 'n Klein mannetjie met ongelooflike deursettingsvermoë het die afgelope naweek aan die DCAS/Groter Oudtshoorn/Highgate Interprovinsiaal 2025 deelgeneem.
Anton Frylinck (7) het deelgeneem in die spesiale behoeftes afdeling en dadelik aan almal se hartsnare aangeraak. Hy was ook die jongste deelnemer in die afdeling.
Anton is deel van 'n tweeling en hy en sy boetie, Dawie, is leerders by Laerskool Hugenote in Wellington. Anton is in gr. 1 en Dawie in gr. 2.
In gesprek met sy ma, Elsa, vertel sy dat hulle twee jaar gelede deur vriende by tweekamp aangesluit het.
"Ons het dadelik van die sport en die tweekampfamilie gehou. Anton se tweelingboetie, Dawie, het in November 2023 aan tweekamp begin deelneem en Anton wou eenvoudig nie van die baan af bly of uit die swembad nie, hy wou alles doen wat sy boetie doen."
Sy vertel dat hulle in gesprek met Len Symington van Boland-tweekamp was wat voorgestel het dat Anton in die spesiale behoeftes afdeling deelneem.
Hy het in Januarie 2024 aan sy eerste byeenkoms deelgeneem.
Elsa verduidelik dat beide vir hierdie seisoen aan die o. 8-afdeling deelgeneem het.
"Aan die begin van die huidige seisoen moes Anton en Dawie eintlik beide in o. 9 deelneem, maar Anton kan nog nie 50 m swem nie, die o. 8-deelnemers swem slegs 25 m. Die spesiale behoeftes-span, waarvan Anton deel is swem eintlik ook 50 m, maar omdat Anton so klein is, is daar besluit dat hy net 25 m hoef te swem. Ek was so dankbaar vir Len en Boland-tweekamp wat hierdie vergunning gemaak het om kinders met spesiale behoeftes te akkommodeer.
" Ek het net gevoel dit gaan hom so ontmoedig as ons hom moet keer om deel te neem net omdat hy nie 50 m kan swem nie. As hulle nie so tegemoetkomend was nie, sou tweekamp nie vir Anton moontlik gewees het nie. Dit is wat ek hou van tweekamp, almal kry 'n kans."
"WF Human, 'n hegte vriend van ons, wat ook 'n tweekampatleet is, het aangebied om Anton onder sy vlerk te neem as begeleider en ondersteun sedertdien vir Anton."
Aanvanklik was hulle nie seker of Anton die afstand van die 400 m-baanitem en die 25 m-swem sou kon doen nie, maar hy het hulle verras deur dit met die hulp van Human te doen.
Hierdie jaar kon Anton inskryf vir die o. 8-afdeling en Boland verteenwoordig tydens die interprovinsiaal in Oudtshoorn. Hy en Human het die 400 m-baanitem, asook die 25 m-swem voltooi.
Net voordat hulle oor die eindstreep is het Anton soos gewoonlik vir die skare gewaai. Elsa vertel dat hy mal daaroor is as die skare hom aanmoedig.
"Hy doen dit altyd, wanneer hy voor die pawiljoen hardloop waai hy vir sy ondersteuners en geniet dit verskriklik as hulle hom aanpor."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’