OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se dubbele Springbok, Lukas 'Kabamba' Floors, is verlede Saterdag tydens 'n spoggeleentheid in die Oudtshoorn-banketsaal deur Impact Sport Events vir sy prestasies op die rugbyveld vereer.
Rugby-, krieket- en netbalspanne van Oudtshoorn is ook vereer. Die funksie het saamgeval met die organisasie se tweede Paasnaweek-sporttoernooi waaraan ses klubs en vier hoërskoolspanne deelgeneem het.
Ronnie Burton en wyle Michael April sowel as die Choraleers-sanggroep is vir hul jare lange kulturele bydraes vereer terwyl Impact Sport Events, die destydse Onderwys-kollege Suid-Kaapland (OKSK) en die Oudtshoorn-munisipaliteit ook vereer is.
Floors, tans afrigter van Maties se rugbyspan, het die verering as baie spesiaal beskryf omdat dit die eerste keer is dat hy so vereer word. Hy het Impact Sport Events gelukgewens met wat die organisasie doen en belowe dat hy in die toekoms 'n bydrae sal lewer om dit "nog groter te maak".
Die burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, het Impact Sport Events lof toegeswaai vir die inisiatief.
Hy het ook aan rugbyklubs gesê dat hulle miskien nie besef watter bydrae hulle lewer om sosiale probleme aan te spreek, deur honderde jongmense tydens wedstryde na die rugbyveld te lok.
"Dit maak deel uit van die sosiale ontwikkeling van die dorp," het hy gesê.
Volgens Granwell Strydom van Impact Sport Events, is die Paasnaweek-sporttoernooi eintlik die Oudtshoorn-rugbyklubs se toernooi.
Volgens hom is die visie van Impact Sport Events om Oudtshoorn die sportmekka van die land te maak.
Impact Sport Events, is n nie-regerings organisasie wat in 2023 deur vier sportliefhebbers, Granwell Strydom, Jerome Jantjies, Pieter Säfers en Dawid Levendal in die lewe geroep.
Die lys van vereerdes is:
- Rugby: All Blacks, Collegians, Oudtshoorn, Spring Roses, Harlequins, Perseverance, Young Pirates en Hampshire van Graaff-Reinet.
- Netbal: Happy Hearts en Unispurs.
- Krieket: Union Stars en Western Hope.
- Kultuur: Ronnie Burton, Michael April en die Choraleers sanggroep.
- Organisasies: Impact Sport Events, OKSK en Oudtshoorn munisipaliteit.
- Individuele prestasie: Lukas (Kabamba) Floors.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’