DYSSELSDORP NUUS - 'n Jong entrepreneur van Dysselsdorp, Lesly Baartman (29), se droom om sy eie gimnasium suksesvol te bedryf, kry hopelik een van die dae vlerke.
Baartman, oudleerder van die Oudtshoorn Vaardigheidskool, het tot onlangs 'n perseel in Dysselsdorp gehuur waar hy sy gimnasium suksesvol bedryf het voordat Covid-19 ingetree het.
Hy sê dat sy kliënte net begin het om in 'n daaglikse oefenroetine te kom toe hy sy deure moes toemaak weens huurgeld wat eenvoudig te veel geraak het.
"Na die sluiting van my gym het ek vergeefs by die munisipaliteit en ander instansies om hulp aangeklop, maar oral was dit dieselfde storie - jammer ons help slegs maatskappye, nie individue nie."
Baartman vertel dat die idee om sy eie gimnasium op die been te bring uit sy passie vir rugby spruit: "Alhoewel ek van jongs af 'n kranige senter was, was ek maar regdeur my skoolloopbaan aan die klein kant.
"Dit het my laat besluit om my liggaam met gewigte te ontwikkel. Na skool het ek in die Kaap gewerk en my geldjies weggesit en toe stuk-stuk my eie apparate aangekoop. So het ek stukkie vir stukkie gebou totdat ek eendag 'n oproep van my ma in Dysselsdorp gekry het dat my pa ernstig siek is. Ek het toe besluit om dadelik huis toe te kom sodat ek by my pa in sy laaste dae kan bystaan. Dis ook in hierdie tydperk dat ek die gym op die been gebring het."
Ongeag sy teëspoed is Baartman egter vasbeslote om nie sy droom op te gee nie. "Bouplanne om my gimnasium na my ouerhuis te verskuif is in 'n gevorderde stadium. Ons erf is groot genoeg om 'n groot spasie te kan akkommodeer sodat dit nie inmeng met ons huishouding nie. My droom is om eendag 'n Springbok te sien kom uit Dysselsdorp wat by my gimnasium geslyp het."
'n Jongman bou spiere.
Een van Lesly se kliënte besig op 'n oefenfiets. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'