OUDTSHOORN NUUS - Verskeie organisasies het afgelope naweek nasionale jeugdag wat tradisioneel op 16 Junie is, met sport en samesyn gevier. Sommige organisasies het verkies om die dag op Maandag 17 Junie te vier.
Jeugdag word landwyd as openbare vakansiedag gevier ter ere van jong mense wat hul lewens in die stryd teen apartheid verloor het.
Die Oudtshoorn Local Football Association (OLFA) het sy jeugdag-minisokkertoernooi vir o. 11, o. 13 en o. 15-leerders by die Infanterie se sportterrein gehou. Die dag is goed ondersteun met bykans 600 toeskouers, organiseerders en spelers wat deel uitgemaak het van die verrigtinge.
Volgens een van die organiseerders, Desiree Mawela, was die spangees regdeur die toernooi uitstekend en sien OLFA daarna uit om die sportsoort in Oudtshoorn te laat groei.
Die spanne wat deelgeneem het was Alpha FC, Bongolethu, Universal en Unicorn. Alpha is gekroon as die algehele wenner van die dag toe hulle Bongolethu in die eindstryd in 'n tawwe wedstryd met strafskoppe (1 - 0) verslaan het.
Mawela het haar dank uitgespreek teenoor die Infanterieskool wat vir die beskikbaarstelling van die veld asook Herotel vir hul borgskap.
Maandag 17 Junie
Die ANC-vroueliga het in die Rodewal-area by Le Roux-rivier 'n sporttoernooi in drie sportkodes aangebied wat netbal, rugby en domino's ingesluit het. Suwayna Avontuur, een van die organiseerders, het die dag se aktiwiteite as 'n reusesukses beskryf. Die plaasgemeenskappe wat deel-geneem het was Schoemanshoek, Blommetjieskloof, Matjiesrivier, Grootkraal en Buffelsdrift.
Daar was heerlik dominoes gespeel. Foto verskaf
Avontuur het Mandilakhe Matika van departement van kultuur en sport, Neville Delport en Quedine Prins van Umusa Foundation bedank vir hul borgskappe.
Spieskamp-netbalspan, Kwaliers-rugbyklub van Grootkraal en Kelvin April (dominoes) was die wenners in die onderskeie sportsoorte.
Die Oudtshoorn netballiga - en sokkerspanne van Atheletico en ODN Birds onder andere het ook mekaar die stryd aangesê by die Bridgton-sportterrein.
Garnett Wicomb berig dat die anti-dwelm gospelorganisasie, Breakloose, in Rosebank hul jeugdagvieringe saam met die gemeenskap gevier het.
Atletico en ODN Birds-sokkerspanne het mekaar die stryd aangesê by die Bridgton-sportterrein. Foto: Wyndham Ewerts
Honderde kinders en jongmense het die geleentheid bygewoon wat deur die voorsitter, Timotheus Donson, as suksesvol bestempel is.
Die twee hoofsprekers, Jason Ryan en Jan Combrink (SAPD) het 'n beroep op die jeug gedoen om weg te bly van dwelms en alkohol en gemotiveer om die regte keuses in hul lewens te neem met die fokus om 'n verbeterde leefstyl te kies.
Behalwe vir heelwat pret, onder andere 'n sakresieskompetisie, het verskeie plaaslike kunstenaars soos die gewilde Danny B, The Happy Way Makers, Rodene Marthinus, Mr Daywon en Mr Graydon ook opgetree.
Donson het sy dank teenoor die jeug en gemeenskap van Rosebank en Rose Valley uitgespreek vir hul interaksie om van die dag 'n sukses te maak asook die vroue wat vir die voorbereiding en uitdeel van kos gesorg het.
Volgens Donson is Breakloose se hoofdoel om met programme soos jeugdagvieringe te sien dat soveel moontlik jong seuns en dogters hul lewens moet verander en afsien van die gebruik van dwelms, alkohol, okkapype en ander negatiewe gebruike.
Breakloose beplan volgens Donson nog talle programme vir die res van jaar, maar besef dat nog vele hande nodig is om daarmee te help.
"Dis regtig ons droom om te sien dat baie van ons kinders, spesifiek in die agtergeblewe gebiede, eendag dokters, prokureurs, advokate, ingenieurs, onderwysers ens. word. Met God aan ons kant glo ons dat dit moontlik is."
Die kinders het vet pret gehad in Rosebank. Foto:Garnett Wicomb
Donson het sy dank uitge-spreek teenoor al die donateurs wat tot die sukses van die dag bygedra het onder andere Build It, Pick n Pay, Wilck Spar, Badenhorst Slaghuis, Heidi Manuel, Jakob Veldsman, Les Meiring, H&R Skryfbehoeftes, Lategansvlei Groente en die Oudtshoorn Vaardigheidskool en Oudtshoorn Verkeer.
Belangstellendes wat by Breakloose se programme betrokke wil raak, kan die sekretaris, Riaan Booysen, by 060 3336 841 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’