OUDTSHOORN SPORT NUUS - Eden-streek het vanjaar altesaam 11 medaljes by die 31ste Highgate inter-provinsiale tweekampbyeenkoms verower en kon selfs 'n SA rekord via hul o.11-atleet, Wanru Haasbroek verbeter.
Naas die SA tweekampkampioenskappe word die Highgate interprovinsiale tweekampbyeenkoms as die grootste in Suid-Afrika beskou.
Vanjaar is die 31ste keer wat dié byeenkoms gehou word en is dit oudergewoonte deur Dave van der Walt georganiseer.
Volgens Van der Walt, het meer as 543 atlete van sewe provinsies deelgeneem en het hy vanuit 'n ekonomiese perspektief geskat dat Oudtshoorn se ekonomie met ongeveer R4 miljoen gebaat het.
Van der Walt het bevestig dat vanjaar se organisering van dié tweekampbyeenkoms sy heel laaste weens gesondheidsredes sal wees en sal hy nou voltyds op sy familielewe fokus.
Die kwik het verlede Saterdag tot 40°C gestyg, maar selfs die uitmergelende hitte het nie die massiewe skare van die De Jagers-swembad en NA Smit-swembad weggehou waar die aksie plaasgevind het nie. Inteendeel, die kleintjies het hulle gate uit geniet by die klein swembadjie.
Johan Windt wen bronsmedalje ondanks dyspierbesering
Wat die atlete se vernuf op die baan en swembad betref, moet die 70-jarige atleet Johan Windt van Eden-streek, se deursettingsvermoë geprys word.
Windt, wat as die volslae gunsteling aangetree het, het gedurende die oggendbeen by De Jagers-atletiekbaan sy dyspier in die meesterswedloop by die 250 m-merk ernstig beseer en het dapper, met erge pyn op sy gesig te bespeur, na die eindstreep gesukkel om in die laaste plek te eindig.
Dit het hom egter nie van stryk gebring nie en het hy later die middag by NA Smit-swembad, met beseerde dyspier en al, in die eerste plek by die swembad geëindig. Windt het na sy superman-poging gesê dat al waaraan hy kon dink was om sy swemitem te voltooi, ongeag watter posisie hy eindig.
" Ek het slegs met my een been gepaddle en toe ek by die halfmetermerk is, het ek besef dat ek tog kan wen, en vandaar af het al my energie ingespan om so gou moontlik die rand van die swembad te bereik. Eks steeds nie heeltemaal seker hoe ek dit gedoen het nie," het Windt beskeie gesê.
Vir sy bomenslike poging het Windt so wrintiewaar 'n algehele bronsmedalje in die meestersafdeling ingepalm wat heel onwaarskynlik gelyk het.
Tevredenheid oor die algemeen
Menigde besoekers, plaaslike sportlief-hebbers en Jan Alleman kon nie uitgepraat raak oor die kwaliteit van NA Smit se huidige waterkwaliteit en algemene geriewe nie. Hierdie lukrake positiewe kommentaar voorspel goeie moontlikhede dat belangrike swemgalas weer in die toekoms na Oudtshoorn gebring kan word nadat dit 'n paar maande gelede tydelik gehalt is weens wye bekommernis oor die instandhouding van NA Smit.
Die suksesvolle aanbieding van die Highgate Interprovinsiale Tweekamp-byeenkoms het sekerlik hierdie vrese finaal besweer. In hul openingstoesprake het ook die Wes-Kaapse se minister van kultuursake en sport, Anroux Marais asook die burgemeester van Oudtshoorn, Chris McPherson, hulle tevredenheid met die byeenkoms oor die algemeen uitgespreek.
Wanru Haasbroek (groen), Eden se o.11-atleet, het die SA rekord verbeter.
In die skolekompetisie het die laerskole so gevaar:
- Paarl Gim
- George-Suid
- Durbanville
- Hoërskole
- Outeniqua
- Durbanville
- Framesby
LUDORUMS
- Junior victor ludorum - Blake Fisher OP
- Junior victrix ludorum - Shimone v d Merwe WP
- Senior victor ludorum - Michel Archer WP
- Senior victrix ludorum - Lize- Ann Aucamp WP
Eden (goue medaljes)
- Seuns o.11- Wanru Haasbroek verbeter ook die SA rekord
- Dogters o.15 - Arabelle Grutter
- Seuns o.15 - Carlo Bezuidenhout
- Senior dames - Jo-mari Smith
- Senior mans - Reinhard Haupt
Eden (silwer)
- Seuns o.8 - Lian Hattingh
- Seuns o.13 - Llewelyn Viljoen
- Meester dames (40) - Liesl Barnard
- Meester dames (60) - Anita Louw
Eden (brons)
- Senior mans - AC Kleynhans
- Meester mans (70) - Johan Windt
Resultaatgewys het WP vir Boland as spanwenner onttroon met OP in die derde plek gevolg met Eden in die vierde posisie.
Eden-tweekamp het ook WP- en Boland-tweekamp bedank vir hulle hulp sowel as die hoofborge DCAS, Groter Oudtshoorn-munisipaliteit, Wimpy, Oudtshoorn Ford en Highgate-volstruisplaas.
Van der Walt was ook vol lof vir die plaaslike media wat volgens hom 'n groot rol speel om die sportsoort te bevorder.
Op julle merke, gereed, weg!
Paramedici en baanbeamptes help Windt wat in erge pyn verkeer. Windt het wonder bo wonder met beseerde dyspier die swemitem gewen en 'n algehele bronsmedalje verower.Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'