Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se sportlui is Donderdagaand 30 November vereer vir hul prestasies, JD Glinister is aangewys as die senior sportman van die jaar, vir sy bronsmedalje by die Suid-Afrikaanse skopbokskampioenskappe en vir die feit dat hy in die SA Proteasspan opgeneem is, wat aan die Turkse ope-skopbokskampioenskappe gaan deelneem.
Toy Ungerer se goue oomblikke by die wêreld meestersatletiekkampioenskappe in Australië het weer voor die gaste afgespeel, toe sy as die senior sportvrou van die jaar aangewys is.
Ungerer het by dié kampioenskappe die 400 m wêreldrekord twee maal verbeter en ook 'n goue medalje in die 100 m losgehardloop.
Agt sportkodes, naamlik trompoppies, krieket, rugby, atletiek, fietsry, netbal, skopboks en rubberbootresies het uitgestaan as sport waarin van Oudtshoorn se bestes medaljes op nasionale en internasionale vlak ingeryg het.
Ranger Grebe se skopboksklub het nie net die senior sportman van die jaar, Glinister, opgelewer nie, maar ook die junior sportvrou van die jaar, Megan Grebe.
Toy Ungerer (senior sportvrou van die jaar) en uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester.
Verdienstelik is dié klub ook aangewys as die senior sportspan van die jaar, met nege van sy lede wat aan die SA skopbokskampioenskappe deelgeneem het en met twee goue-, vier silwer, en twee bronsmedaljes teruggekeer het.
Megan het twee van die vier silwermedaljes gewen en is in die SA Presidentspan opgeneem om aan die Turkse ope te gaan deelneem.
Met twee top individuele toekennings, die sportspan van die jaar toekenning, die afrigting van twee SA en 11 Wes-Kaap- kampioene, kon die keurders sekerlik nie anders as om die afrigter en eienaar van die skopboksklub, Ranger, aan te wys as die senior afrigter van die jaar nie.
Oudtshoorn se fietsryers het ook die verhoog volgestaan. Eden se fietsrypresident, Corné Bence, is aangewys as die senior sport administrateur, vir die bestuur van die Protea-fietsryspan wat aan die wêreldfietsrykampioenskappe in Los Angeles deelgeneem het.
Sy stoel op die uitvoerende bestuur van Fietsry SA, het ook 'n bydrae gelewer tot die toekenning.
Phillo Verlaat se Protea-fietsrykleure en deelname aan die wêreld para-fietsrykampioenskappe het hom die toekenning as sportman met gestremdheid verseker.
Kerrigan Aries, die kaptein van die SA o.17-fietsry tydtoetsspan, is as hoërskole sportman aangewys. Aries se Bridgton Sekondêr-span is as die hoërskole sportspan bekroon, na hulle SA en Wes-Kaap o.17-tydtoets oorwinnings.
Lee Aries, die afrigter van die span, is as skole afrigter aangewys. Ander wenners: Sportvrou met gestremdheid Izini Hufke (Sy verower drie goue medaljes by die SASAPD nasionale atletiekkampioenskappe).
Skole sportadministrateur Denver Jansen (voorsitter van die Eden- en Oudtshoorn atletiekunies en 'n keurder vir die o.13 Cravenweekspan).
Hoërskole sportvrou Anique Wolmarans (lid van die SA skole o.18-netbalspan wat teen Australië, Nieu Zeeland en Fidji gespeel het). Junior sportman Jarco Ferreira (is genooi om aan die UIM P750 wêreldrubberboot-kampioenskappe deel te neem, na oorwinnings in twee van die SA kampioenskappe en 'n derde algehele plek).
Laerskole sportman Antonio Bruiners (hy is lid van die SWD o.13 krieket-, atletiek- en rugbyspanne). Laerskole sportvrou Caitlin Bruintjies (lid van die Protea-trompoppiespan wat aan 'n internasionale kompetisie in Kroasië deelneem). Laerskole sportspan Van Reede-trompoppies (is tans die agtste beste span in SA en die 2017 SWD Kampioene van kampioene).
Lees 'n vorige artikel: Sportman- en vrou aangewys
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'