OUDTSHOORN NUUS - Dragons-dominoklub is onlangs by die Oudtshoorn-sportgronde as wenners van die Oudtshoorn-dominoliga aangewys toe hy Lazers in die finaal geklop het.
Dié klub is in 2013 gestig en het dieselfde jaar nog sukses geproe toe hy met die intrapslag dadelik die Oudtshoorn-dominoliga gewen. Sedertdien het dié klub nog elke jaar in dié liga se finale gespeel en moes slegs een keer met 'n tweede plek tevrede wees.
Die span is ook tot dusver die enigste wenners van die plaaslike Summer Cup-dominotoernooi sedert dit drie jaar gelede begin is.
In 2019 het die Dragons ook 'n goue medalje tydens die gewilde Oudtshoorn-sportfees ingepalm.
Piet Prins, stigterslid van Dragons, skryf sy span se vermoë om mekaar se spel te lees as een van die hoofredes waarom sy span konstant 'n groot faktor in enige toernooi is.
"Dominos is 'n inheemse spel wat al vir donkie jare stimulerende vermaak in die gemeenskap verskaf.
Dit feit dat die spel tegnies wiskundig van aard is, maak dit soveel meer uitdagend en genotvol.
Dragons-dominoklub is onlangs by die Oudtshoorn-sportterrein as wenners van die Oudtshoorn-dominoliga gekroon. Foto's: Wyndham Ewerts
Veral jong kinders kan baat vind by dominos omdat dit hul kognitiewe vermoëns verbeter. Dit hou ook die ouer garde se verstand wakker," skerts hy.
Prins sê die geheim van parespel-dominos is om die perfekte vennote saam te stel. "Veral in groot toernooie is dit baie belangrik om vroeg reeds pare te wissel wanneer dit duidelik word dat hulle nie mekaar vind nie."
"Op hierdie manier staan jy nie onnodige punte af deur met dieselfde pare aan te karring wat geen punte vir die span insamel nie," verduidelik hy.
Tans is dié klub besig om voor te berei vir die Summer Cup-dominostoernooi wat volgende maand begin. Voornemende spelers wat wil aansluit by Dragons-dominoklub kan Piet Prins by 078 406 0887 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'