ZOAR NUUS - Mark le Roux, 'n inwoner van Zoar, se projek om bergfietse en drafskoene vir talentvolle kinders in die omgewing te skenk vir hul algemene sportontwikkeling, is besig om van krag tot krag te gaan.
Le Roux sê dat hy hierdie inisiatief sowat ses jaar gelede van stapel gestuur het en in die proses, al in die omgewing van 60 leerders bystaan het.
Hy vertel dat hy ook 'n Zoar Bigshots-fietsklub begin het met 12 fietsryers, almal onder 18 jaar. So het al die lede van die klub ook verlede naweek aan die Red Stone-bergfiets en -veldwedlope deelgeneem en uitstekend gevaar, iets waarop Le Roux verskriklik trots is.
"Dit wys maar net dat dit waarmee ons besig is, goeie vrugte dra vir almal om te aanskou. Zoar en omgewing kan trots wees op ons jeug. Baie dankie ook aan ons borge wat ou, maar mooi bruikbare fietse en toerusting skenk. Sonder julle sou hierdie vordering nie moontlik gewees het nie."
Bo en behalwe die skenking, maak Le Roux ook seker dat daar genoeg fondse is om hierdie fietsryers en atlete by soortgelyke kompetisies in te skryf en moedig hy in dieselfde asem ook voornemende belangstellendes uit om aan te sluit by die klub.
Volgens Le Roux is daar ook belowende atlete in die omgewing, maar wat ongelukkig nie die nodige hulpbronne het om ordentlike drafskoene en -klere aan te skaf nie. Die grootte van die drafskoene wat benodig word is vanaf skoengrootte 4 tot 6 meestal vir mans en die klere is vanaf klein tot medium.
Vir enige hulpverlening in hierdie verband kan Le Roux by 082 453 2719 geskakel word.
So het die lede van die Zoar Bigshots by die Redstone bergfiets en veldwedlope gevaar:
9 km-wedloop
- Chris Schwinn (eerste plek)
- Juan Scheffers (tweede plek)
- Nico Parson (derde plek)
- Jayden Volmink (vierde) - Jayden het verlede jaar se wedloop in hierdie kategorie gewen.
16km-afdeling
- Waylon Alexander (eerste plek)
Andrew Swarts en Charlton Parson het in die 49 km-bergfietswedren deelgeneem en alhoewel hulle geen podium plekke behaal het nie, was dit uitstekende ervaring vir hulle.
Waylon Alexander het die 16 km-afdeling gewen.
Chris Schwinn (geel) en Juan Scheffers jaag teen mekaar vir die eerste plek. Foto's: Gerber Fotografie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’