OUDSTHOORN SPORTNUUS - Die Battle of the Continents-skopbokstoernooi tussen Suid-Afrika en Kanada, wat verlede naweek by die De Jager-sportkompleks gehou is, was verantwoordelik vir groot opwinding onder plaaslike sportliefhebbers.
Dié skopbokstoernooi is deur die Eden-skopboksfederasie in samewerking met die Oudtshoorn-sportraad en departement van sport en kultuur aangebied en vorm deel van die Oudtshoorn-sportfees wat tans aan die gang is.
Die toernooi is beslis in die Ring en Tatami-afdelings. Vrydagaand was die Ring-afdeling (volkontak) in die bokskryt wat uit 19 gevegte bestaan het - een SA skopbokser vanuit Eden-geledere en die res van die deelnemers was vanaf Gauteng, Sedibeng en Noordwes afkomstig.
Saterdag was die Tatami-kategorie in meer beheerde kontak op die mat van altesaam 23 gevegte - hier was die meerderheid van die SA skopboksers vanuit Eden en Kaapstad-federasies verteenwoordig.
Volgens Ranger Grebe, gesoute skopbokser, afrigter-organiseerder, het die Kanadese uit 'n groep van 45 bestaan (27 skopboksers en die res afrigters en ondersteuners) en het hulle alreeds op 27 Junie in Oudtshoorn aangekom. Dié groep het Maandag 3 Julie na Kaapstad vertrek vir die volgende deel van hul besoek om ook daar in 'n skopbokstoernooi (toets) mee te ding.
Ranger verduidelik dat Suid-Afrika en Kanada vir die afgelope 20 jaar 'n bilaterale ooreenkoms met mekaar het om toetse om die beurt in hul onderskeie lande aan te bied.
"Hierdie was die eerste toets na die Covid-19-pandemie en dit is so 'n belangrike en
nodige sportgebeurtenis om weer inter-nasional bande op te bou wat geleenthede en ontwikkeling vir ons kinders skep. Deel van die bilaterale-ooreenkoms is dat die reisende toetsspan net hul vliegkaartjies koop en die gasheer, die res van die kostes dra.
Vanjaar het die plaaslike Grebe's-skopboksklub se ouers hul harte en hande oopgemaak en gesorg dat die Kanadese span van 45 vir ses aande die lekkerste tradisionele Klein-Karoo-kos kon geniet. Van volstruisbobotie, droëwors, koeksisters en 'n steakbraai. Met Sondagaand se afsluitingsete kon die Kanadese-span nie uitgepraat raak oor die liefde en omgee wat hulle hier in Oudtshoorn ervaar het nie. Die spanbestuurder asook die Kanadese skopbokspresident, Muzammal Nawas, wat al vir die afgelope 20 jaar al die toetse na Suid-Afrika begelei, glo die besoek was die beste ervaring nog!" vertel Grebe.
JP Ellard (blou kopskerm) van Suid-Afrika trap sy teenstander.
Die toetsuitslae is as volg:
- Ring (19 gevegte)
- SA 9 - Kanada 9
- Een geveg het nie 'n uitslag nie.
- Tatami (23 gevegte)
- SA 15 - Kanada 8
- Totaal van Ring- en Tatami-gevegte was 41, waarvan Suid-Afrika 24 en Kanada 17 gewen het.
Dus wen Suid-Afrika 2023 se internasionale skopbokstoernooi in Suid-Afrika.
So het Oudtshoorn se skopboksers gevaar:
- Anando Olivier, Divan Rademeyer, Ben Greeff en Ranger Grebe wen hul toetse.
- Simon Greeff en Wian Grebe behaal tweede plekke.
In die volkontaktoets word een van Kanada se skopbokers bloedneus gepot.
Die vroueskopboksers het mekaar lekker opgekeil op die mat. Foto's: Wyndham Ewerts
Links is Ranger Grebe met vyf van Oudtshoorn se skopboksers wat deelgeneem het. Voor is Anando Olivier en agter, langs Grebe, is Simon Greeff, Divan Rademeyer, Ben Greeff en Wian Grebe. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'