OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se Anel van Wyk-Spies het die afgelope naweek 'n indrukwekkende prestasie behaal deur as die algehele vrouewenner van die 2026 SOX 3-dae-wedloop in die Tuinroete gekroon te word.
Hierdie was die eerste keer wat sy aan dié uitdagende wedloop deelgeneem het.
Van Wyk-Spies het die driedaagse wedloop in 'n totale tyd van 6:10:09 voltooi en al drie skofte in die vrouevollekategorie gewen.
Drinnette du Randt het tweede geëindig in 6:36:05, terwyl Sondra Hope derde was in 6:58:34.
Vir Van Wyk-Spies was die oorwinning egter nie die doel toe sy vir die wedloop ingeskryf het nie. Sy het die uitdaging eerder aangepak omdat sy daarvan hou om nuwe ervarings en plekke te ontdek.
"Hierdie was 'n nuwe uitdaging. Ek hou van nuwe uitdagings en nuwe plekke en wou dit nog altyd doen," het sy gesê.
Sy het die wedloop met 'n positiewe ingesteldheid aangepak en elke skof as 'n nuwe uitdaging beskou.
"Die eerste dag was ons in die berge. Dit is natuurlik my kos en ek het dit verskriklik geniet," het sy gesê.
Die tweede dag, wat deur 'n roete deur die woud gekenmerk is, was volgens haar die moeilikste.
"Ons was in die woud. Die grond was nat en glad en daar is baie boomwortels waaroor 'n mens moet spring. Die bulte is lank, maar dis in sulke omstandighede wat 'n mens besef dat jou brein sterker as jou lyf is en die wedloop eers voltooi is wanneer jy oor die eindstreep is."
Die derde en laaste skof was volgens Van Wyk-Spies die maklikste. Die deelnemers het onder meer deur 'n gedeelte met sand gehardloop, maar die harde sand het vir goeie hardlooptoestande gesorg.
"Met die derde been kon ons ons eie spoed hardloop en dit was gemaklik en 'n lekker manier om die wedloop te eindig," het sy gesê.
Van Wyk-Spies sê sy sal die SOX aanbeveel vir enigeen wat daarvan hou om nuwe uitdagings aan te pak.
Die SOX is 'n driedaagse wedloop in die Tuinroete, met die Fairy Knowe Hotel in Wildernis as basis. Vanjaar het net meer as 141 atlete aan die byeenkoms deelgeneem, wat op 'n koue en nat Sondag 9 Augustus in Wildernis geëindig het.
In die mansvollekategorie het AJ Calitz die algehele oorwinning behaal in 5:16:47. Hy het al drie skofte gewen. Ryan Winter was tweede in 5:43:26 en Arend Theron derde in 5:55:05.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’