OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se Sergio Arries (20) staan op die drumpel van 'n moontlike deurbraak in sy gholfloopbaan. Die jong speler berei voor vir een van die belangrikste verhoë in Suid-Afrikaanse gholf, 'n geleentheid wat die rigting van sy professionele toekoms kan bepaal.
Arries neem van 25 tot 29 Maart deel aan die Sunshine Tour se Theo Manyama Kwalifiserende Skool, waar spelers om toerkaarte en speelregte vir die komende seisoen meeding.
Die toernooi verteenwoordig die finale fase van kwalifisering en bied aspirant professionele gholfspelers die geleentheid om hul plek in Suid-Afrika se voorste mansgholftoer te verseker.
Vir Arries is dié deelname 'n belangrike stap nader aan sy doelwit om hom as professionele gholfspeler te vestig.
Sy liefde vir die sport het hy by sy pa, Jacobus, geërf. Hy het reeds op sesjarige ouderdom begin speel en sedert 2018 doelgerig op sy spel begin fokus.
Volgens Jacobus het uitdagende omstandighede tydens die Covid-19-tydperk, toe hy sy konstruksiebesigheid verloor het, nie sy seun se vasberadenheid gekniehalter nie.
Van links is Sera Arries (Sergio se ma), Sergio Arries en Jacobus Arries (pa). Foto: Liezl van Niekerk
"Ons moes na Hopeville verhuis, die informele nedersetting langs die gholfbaan, maar dit het uiteindelik vir Sergio 'n geleentheid geskep, aangesien hy nader aan die gholfbaan was. Hy bestee daagliks vier tot vyf ure aan oefening," het hy gesê.
Ten spyte daarvan dat hy nog nie formele afrigting ontvang het nie, het Arries reeds vier keer Suid-Kaap-kleure verwerf. Hy was ook deel van die Suid-Kaap-span wat verlede jaar die Country Districts A-afdeling gewen het en is as die mees waardevolle speler aangewys.
Benewens sy gholfloopbaan fokus hy ook op sy studies en is tans besig met 'n konstruksiebestuurskursus aan die Universiteit van Kaapstad. Volgens sy pa getuig sy dissipline van besondere toewyding: "Nadat hy sy studies vir die dag voltooi het, is hy weer op die baan besig om te oefen."
Sergio Arries in aksie. Foto: SAGDB
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het verlede week, as deel van sy sportont-wikkelingsinisiatief, 'n tjek van R23 700 aan Arries oorhandig om sy deelname aan die toernooi moontlik te maak.
Die speaker, Suzane Jansen, het tydens die oorhandiging gesê dit is inspirerend om sy vordering te sien en het ook sy ouers geloof vir hul ondersteuning.
Waarnemende burgemeester Zoë Tyatya, het bygevoeg dat ware kampioene nie deur trofeë gemeet word nie, maar deur hul toewyding.
"Ons vier vandag talent, deursettings-vermoë en veerkragtigheid. Mag elke ronde jou leer en jou nader aan sukses bring," het sy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’