OUDTSHOORN NUUS - Vanjaar se Paasfees-sokkertoernooi van OLFA (Oudtshoorn Local Football Association) word reeds die afgelope 50 jaar aangebied.
Die bekendstelling van die toernooi en die loting van spanne se wedstryde het Maandagaand in die munisipale saal in Dysselsdorp plaasgevind.
Afrigters en bestuurders van 20 sokkerklubs uit die Oudtshoorn-omgewing en omliggende dorpe het spanne in twee afdelings ingeskryf. In die A-afdeling is daar 12 spanne en in die B-afdeling ding 10 spanne mee. Die toernooi begin Vrydag 3 April en duur tot Maandag 6 April.
Wedstryde word op die sportterrein van Dysselsdorp, De Rust en Bongolethu gespeel.
Die president van OLFA, Gabriel Majolla, het Maandagaand gesê die toernooi is nie bloot 'n kompetisie tussen spanne nie, maar ook 'n ontwikkelingsgeleentheid om sokkertalent te identifiseer.
"Met hierdie toernooi word talent ontwikkel, spelers getoets en individue gemotiveer. Die toernooi speel ook 'n groot rol in gemeenskapsontwikkeling. Hy het spesiale melding van Leveste le Roux gemaak wat voor sy dood 'n geweldige bydrae tot sokker in Dysselsdorp en die groter Oudtshoorn gelewer het.
Die hoofborge en vennote van die Paasfees-toernooi is die Oudtshoorn-munisipaliteit en die departement van kultuursake en sport (DKS).
Raadslid Leon Campher, het namens die waarnemende burgemeester, Mziwoxolo Tyatya, die geleentheid bygewoon en gesê die toernooi is die ideale geleentheid om jong talent te ontdek. Hy het bevestig dat die munisipaliteit reeds die afgelope 50 jaar by die toernooi betrokke is.
Die nuutaangestelde sportontwikkelings-beampte van DKS, Izelke Benecke, het gesê alhoewel sy nog nuut in haar pos is, kan sy reeds sien watter positiewe gesindheid daar onder sportliggame in Oudtshoorn heers. Sy sê sport is die hart en siel van 'n gemeenskap en haar boodskap aan die sokkerspanne was om die toernooi te geniet en met die hart van 'n kind te speel.
Die eerste wedstryde in die Paasfees-sokkertoernooi skop Vrydagoggend om 11:00 af.
- Vir navrae oor die program en waar wedstryde plaasvind, kontak die waarnemende sekretaris van OLFA, Keanan du Plessis, by 061 970 5077
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’