DE RUST NUUS - De Rust United het geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer deur te dring na die SAFA Eden Hollywood Mans-streekliga.
Die span is aangewys as algemene wenners van die OLFA Promotional League vir die 2024/2025-seisoen.
Op 29 en 30 Augustus het die span aan die streekuitspele vir plaaslike sokkerverenigings (LFA’s) in Knysna deelgeneem en met ’n indrukwekkende tweede plek weggestap.
Hierdie prestasie het vir hulle die deurslag gegee om hul plek in die streekliga te verseker.
Met dié mylpaal het OLFA nou drie spanne wat op streekvlak meeding, naamlik Moonlight SK, Infantry en De Rust United.
“Ons is besonder trots op De Rust. Ná baie harde werk, opoffering en deursettingsvermoë het hulle dit uiteindelik reggekry,” sê Keanan du Plessis, sekretaris van OLFA.
“Ons wens dat De Rust verder sal groei, hierdie posisie sal behou en ’n sterk rolspeler in die liga sal wees.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’