OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Western Hope-krieketspan het Saterdag hul laaste SWD Premierligawedstryd vir die seisoen op 'n hoë noot afgesluit toe hy die span van Thembalethu (George) met agt paaltjies op die Bridgton-sportterrein geklop het.
Western Hope het die loot gewen en besluit om eerste te boul waarna hulle Thembalethu vir n skamele 62 lopies in die 27ste boulbeurt uitgeboender het.
James Bruiners het die beste met die bal gevaar en 2/12 in slegs sewe boulbeurte platgetrek.
Die tuisspan het daarna in hul kolfbeurt die wenteiken in die 7de boulbeurt afgeblits met Eaj Carew wat 29 lopies van slegs 19 balle gemoker het.
Alhoewel die span wéér soos in hul vorige wedstryd met 'n bonuspunt gewen het, kon dié oorwinning egter nie verhoed dat die span gerelegeer word om volgende jaar in 'n laer liga (promosieliga) te speel nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'