OUDTSHOORN NUUS - Die Gemeenskapspolisiëringsforum in samewerking met die Oudtshoorn-munisipaliteit en jeugraad het die afgelope naweek die tweede ronde van hul TOP 8- vlakkiekriekettoernooi gespeel.
Altesaam agt plaaslike vlakkiekrieket-spanne neem tans deel aan hierdie toernooi wat by die oop ruimtes by die ou Alpha Teater, langs Eerstelaan in Bongolethu, agter Saturnus Primêr en langs Dassieweg plaasgevind.
Die agt spanne wat sake uitspook is Hungry Lions, Daredevils, Silver Stars, Askamp, Polisiehoogte, Evoulations Stars, Roses United en Super Kings. Laasgenoemde en Polisiehoogte is tans die voorlopers met 6 punte elk.
Vanjaar is die eerste keer dat hierdie organisasies kragte saamsnoer om dié vlakkiekriekettoernooi aan te bied.
In 'n afsonderlike vlakkiekriekttoernooi wat deur pastoor Alfred Pieterse gereël is het ses spanne (Major Boys, Team Players, Dondolas, Dream Eleven, Barmy Army en Kellerprinz) op 'n oop stuk veld in die woonbuurt bekend as "Die Gat", ook die naweek teen mekaar meegeding.
Die eindstryd van dié toernooi word beplan vir Sondag 2 Februarie.
Die organiseerders, Pieterse en Pat Blaauw, kan vir enige navrae by 063 324 9321 en 071 520 9231 gekontak word.
Wyndham Ewerts van die Oudtshoorn Courant het die aksie op sy lens vasgelê.
Een van die boulers lewer 'n blitsige aflewering af.
'n Veldwerker maak gereed om die bal te vang.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'