OUDTSHOORN NUUS - Die halfeindstryde en eindstryd in die jaarlikse o.13-Vlakkie-kriekettoernooi wat deur die Polisiehoogte-sopkombuis en nasorgsentrum aangebied word, word Sondag 5 Januarie in Dysselsdorp gespeel.
Volgens Phillip Seroux, organiseerder, het sewe spanne, drie van Dysselsdorp en vier van Oudtshoorn, vir vanjaar se toernooi ingeskryf.
Dit maak deel uit van die sopkombuis en nasorgsentrum se skoolvakansieprogram om kinders gedurende die vakansie besig te hou met die leuse " 'n Kind in sport is 'n kind buite die tronk.".
Seroux het ‘n beroep op die gemeenskap van Dysselsdorp en veral die ouers van die kinders gedoen om die dag by te woon. Die wedstryde word op die oop stuk grond tussen die Dysselsdorp-polisiestasie en die Dysselsdorp-kleuterskool gespeel.
In die eerste halfeindstryd wat net na 10:00 sal begin, speel die Eagle Kings van Dysselsdorp teen die Laeveld van Oudtshoorn.
In die tweede semi-fnaal kom Sweaty Stars van Dysselsdorp teen die Dragons van Oudtshoorn te staan, waarna die wenners mekaar in die eindstryd sal pak. Die halfeindstryde word oor tien boulbeurte per span beslis en die eindstryd oor vyftien.
Die ander spanne wat deelgeneem het is Proteas van Dysselsdorp en die Lions en Oukas Sunrisers van Oudtshoorn.
Vanjaar is die derde jaar dat die sopkombuis en nasorgsentrum die toernooi aanbied.
Volgens Seroux kom baie klub-, provinsiale en selfs nasionale krieketspelers uit Vlakkiekrieket.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor die Oudtshoorn-munisipaliteit wat die terrein voorberei het asook al die borge wat 'n bydrae gelewer het om die toernooi te kan aanbied en daarvan ‘n sukses te maak.
Seroux kan vir meer besonderhede geskakel word by 079 987 9486.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’