TUINROETE NUUS - Die A-span van Union Stars-krieketklub het Knysna Kavaliers Saterdag op die Bridgton-sportterrein in 'n SWD Premierliga wedstryd oortuigend met sewe paaltjies geklop.
Kavaliers het eerste gekolf, en is almal vir slegs 84 lopies in die 30ste boulbeurt uitgeknikker.
Union Stars se boulaanval het uitstekend as 'n eenheid gekombineer met Elrich Booysen (3/9), Rushaan McGregor (2/17) en Envirino Swartz (2/22) wat verwoesting met die bal gesaai het.
In Stars se kolfbeurt het die betroubare openingskolwer en kaptein, Pieter Stuurman, 'n onoorwonne 37 lopies aangeteken .Die tuispan het Kavaliers se teiken reeds in die 23ste boulbeurt oortref met sewe paaltjies nog staande.
Met hierdie oorwinning het Union Stars nou na die tweede plek opgeskuif (24) op die algehele SWD Premierliga punteleër. Volgens Stuurman is hy baie tevrede met die algehele peil van sy span. "Die manne speel vir mekaar, en dit is die groot rede hoekom ons so 'n gedugte span is."
Union Stars se volgende wedstryd is Saterdag teen Mosselbaai-krieketklub op Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'