OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - Die Oudtshoorn Premierliga vlakkiekrieket- ontwikkelingstoernooi is tans aan die gang en die eerste wedstryde is reeds Sondag beslis.
Altesaam 12 plaaslike vlakkiekrieketspanne ding vanjaar mee en sluit die Young Ones, Rosevally Knights, Firestones, Underdogs, Hungry Lions, Legendz, Young stoners, Exstreams, Tigers, Prostars, Spartens en die Warriors in.
Vanjaar is die vierde bestaansjaar van dié toernooi en Die Firestones-krieketspan is tans die verdedigende kampioene.
Die advertensieblad, Die Herrie, borg die wennerstrofee. Volgens Gavin Pietersen, toernooibestuurder, sal die half- en eindstryde op 1 en 8 September beslis word. Hy het voorts ook die publiek aangemoedig om dié spanne in hul honderde te kom ondersteun.
Die tweede rondte van die toernooi sal eerskomende Sondag by die Bridgton-kliniek (11:00), Bongolethu-sirkel (14:00), Die Witblok (10:30), Asla Park (14:00) en 17de Laan (11:00) plaasvind.
In die wedstryd wat die Oudtshoorn Courant tussen Die Legendz en die Young Ones gedek het kon eersgenoemde daarin slaag om hierdie wedstryd met vyf lopies te wen. Die Legendz het die loot gewen waarna hulle 'n middelmatige 98 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken. Die Young Ones se kolwers kon egter nie die mas opkom in kolfbeurt nie en is almal in die 18de boulbeurt vir 93 lopies uitgeboul.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'