OUDTSHOORN NUUS - "Koerantberigte, sosiale media en 'n onlangse verklaring van die Oudtshoorn-munisipaliteit wat insinueer dat die Oudtshoorn Premierliga (OPL)-vlakkiekrieket onverantwoordelik tydens Covid-19 vlak-3 bestuur word, is totaal en al eensydig."
So het Gavin Pietersen, uitvoerende beampte van Eden Rainbow Development Projects (ERDP), wat vlakkiekrieket in Oudtshoorn bestuur, vandeesweek gesê in reaksie dat die aanbieding van die vlakkiekrieketeindstryd twee weke gelede tussen die Old Crocs en die Neppon Warriors-spanne plaaslike inwoners se lewens glo in gevaar gestel het.
"Ek wil dit op rekord plaas dat die OPL 'n wetsgehoorsame geregistreerde organisasie is en dat ons sedert die aanvang van lockdown getrou die president se wette nakom. 'n Voorbeeld daarvan is dat ons 'n paar weke terug alle vlakkiekrieket gestop het omdat alle sport in daardie tydperk landswyd gestaak is.
"Twee weke gelede het die president egter 'n aankondiging gemaak dat sport wel onder vlak 3-regulasies beoefen mag word met 'n maksimum van 100 persone vir buitemuurse byeenkomste. As 'n mens twee krieketspanne van 11 lede en hul bestuur bymekaartel is dit ver onder die minimum van 100 persone wat toelaatbaar is. Dus is daar geen vereiste dat die OPL moet aansoek doen om sy sportprogramme te beoefen nie. Nêrens het ons toeskouers na ons krieketwedstryde genooi nie juis omdat ons die landswette wil gehoorsaam.
"Die OPL is slegs verantwoordelik vir sy spelers en bestuur se veiligheid en onder geen omstandighede kan ons verantwoordelik gehou word vir inwoners wat Covid-19-regulasies ondermyn deur nie maskers te dra of sosiale afstand te handhaaf nie."
Volgens Pietersen is dit duidelik dat sommige ongehoorsame toeskouers na tuisvermaak smag om met vriende in die openbaar drankies te geniet.
"Hierdie tipe gedrag veroordeel ons ten sterkste. Die OPL is juis agt jaar gelede op die been gebring om bendes, drank en dwelms deur middel van sport te beveg. Lede van die Neppon Warriors-vlakkiekrieketspan moes ook noodgedwonge na hul wedstryd die toeskouers se rommel van die veld verwyder."
Lede van die Neppon Warriors-vlakkiekrieketspan moes na hul wedstryd die toeskouers se rommel van die veld verwyder. Foto verskaf
Verklaring van Oudtshoorn-munisipaliteit
In 'n verklaring wat verlede week deur die Oudtshoorn-munisipaliteit uitgereik is het die burgemeester, Chris Macpherson, gesê dat inwoners se houding jeens die Covid-19-regulasies teleurstellend en lewensgevaarlik is.
"Die polisie en wetstoepassers sal die nodige stappe neem om sy burgers te beskerm en dossiere is geopen om die minagting van die Wet op Rampbestuur die afgelope naweek deur die organiseerders van die vlakkiekrieket, te ondersoek," het die verklaring gelui. In dieselfde verklaring bevestig die munisipaliteit dat Oudtshoorn een van die laagste entstofregistrasiesyfers het in vergelyking met sy ander dorpe in die Tuinroete. Pietersen het gesê dat dit blatante opportunisme van die munisipaliteit is dat die OPL nou die blaam moet dra vir Covid-19-stygings terwyl Oudtshoorn nog al die pad volgens hom 'n brandpunt is. "Al wat ons kry is net leë beloftes en misplaaste kritiek wanneer dit die munisipaliteit pas. Toe die wetstoepassers sien dat die wedstryd ter sprake handuit ruk moes hulle opgetree het, want manalleen was dit onmoontlik vir ons. Dis ook 'n welbekende feit dat die munisipaliteit die afgelope agt jaar bitter min gedoen het om ERDP se sportprojekte finansieel te ondersteun. Ek daag die munisipaliteit en besighede in Oudtshoorn uit om 'n hand uit te reik sodat ons sportprogramme van krag tot krag kan gaan en jeugontwikkeling en misdaadbekamping sodoende kan seëvier."
Pietersen het bevestig dat die OPL-vlakkiekrieket tydelik gestaak is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'