OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die Oudtshoorn Premierliga vlakkiekrieketspan (OPL Kings) se beoogde toer na Paarl en Worcester is verlede week ter elfder ure afgestel omdat twee spelers van die Paarl-vlakkiekrieketspan glo positief vir Covid-19 getoets is.
Volgens een van die OPL-bestuurslede, Marco Donson, is die besluit om te onttrek in belang van die spelers se veiligheid geneem.
"Slegs die vlakkiekrieketspan van Worcester sal nou eerskomende naweek teen ons kom speel. Al die spelers is deeglik bewus van die gevare wat Covid-19 inhou, en ook hoe om die veiligheidsmaatreëls na te kom wanneer daar meegeding word. Ons as beamptes sal hulle in elk geval kort-kort daaraan herinner," het Donson gesê.
Om op te maak vir die gekanselleerde wedstryde het die OPL Kings verlede Sondag twee opwarmingswedstryde teen die huidige OPL-kampioen, Firestones en Dreamers gespeel, en beide gemaklik gewen.
Die wedstryde is in die skroeiende son beslis, en veral die OPL Kings verdien 'n pluimpie vir hul volgehoue stamina en fokus in sulke uiterste weerstoestande.
In die wedstryd teen Firestones (huidige OPL-kampioen) het die OPL-Kings die loot gewen en besluit om eerste te kolf. In hul toegelate 20 boulbeurte kon hulle 'n uitdagende 126 lopies vir die verlies van agt paaltjies aanteken. Niel Arries was die Kings se beste kolwer met 38 onoorwonne lopies. Hy was goed ondersteun deur die veelsydige speler Damion Esau, wat 18 lopies aangeteken het.
Die Firestones was van meet af aan onder druk met gereelde staatmakers soos Johben Barends en Jaydrian Plaatjies wat onderskeidelik vir 'n nulletjie en 10 lopies uitgehaal is. Nie eers Petrus "Pietie" Fredericks (28 lopies), Firestones se held van die OPL-finale twee weke gelede, kon die kastaiings vir sy span uit die vuur krap nie.
Derick Oliphant van die OPL Kings het die Firestones se kolwers behoorlik laat rondtas met sy wegbrekers en met vier paaltjies vir 18 lopies in sy toegelate vier boulbeurte gespog.
Die Firestones is uiteindelik tot slegs 100 lopies vir die verlies van agt paaltjies in hul 20 boulbeurte beperk. Die OPL Kings wen dus met 26 lopies.
In die wedstryd teen die Dreamers het die OPL Kings ook met 46 lopies geseëvier. Donson het na die wedstryd gesê dat dié twee oortuigende oorwinnings oor die vyfmalige OPL-kampioen (Firestones) en die Dreamers 'n bewys is dat die OPL-keurders op die regte pad is in terme van spankeuses.
"Met die samestelling van die OPL Kings-span moes ons 'n paar tough calls maak. Vandag het die manne met hul skitterende spel bevestig dat ons inderdaad die room van Oudtshoorn gekies het om ons dorp die naweek teen Worcester te verteenwoordig. Ons kan nou net bou op hierdie sterk vertonings en hopelik Worcester met die kous oor die kop huis toe stuur."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'