OUDTSHOORN NUUS - Hungry Lions het Sondagmiddag op die oop stuk veld langs Bridgton-kliniek 'n einde gebring aan Firestones se oorheersing in vlakkiekriekettoernooie toe hulle die manne in rooi met 15 lopies geklop het.
Firestones het die loot gewen en besluit om eerste veldwerk te doen waarna Hungry Lions slegs 'n middelmatige 75 lopies almal uit in die 19de boulbeurt kon vermag het.
Levano Swartz van Hungry Lions was die beste kolwer vir sy span met 30 lopies. Mehaygo September en Petrus Fredericks was Firestones se beste boulers en het elk drie paaltjies laat kantel.
Die algemene verwagting was dat die verdedigende kampioen, Firestones die wenteiken maklik sou bereik het. Hungry Lions se boulers, Lucas en Jason Plaatjies het egter ander planne gehad en verwoesting met die bal gesaai.
Dié tweestuks het elk vier paaltjies platgetrek en Firestones in die 18de boulbeurt almal vir 61 lopies uitgeknikker.
Gavin Pietersen, toernooibestuurder, het Eden Rainbow Development Project en al die borge bedank waarsonder die toernooi die OPL-vlakkiekriekettoernooi nie kon plaasvind nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'