OUDTSHOORN NUUS - Dill-Bill's se krieketakademie het 'n belangrike mylpaal bereik nadat SWD-krieket voorlopig goedkeuring verleen het vir die akademie se akkreditasiestatus en affiliasie by die unie.
Volgens Dillan Moos, stigter van die akademie moet privaat krieketakademies in Suid-Afrika deur hul plaaslike krieketunie aansoek doen om akkreditasie deur Krieket Suid-Afrika te verkry voordat hulle by 'n unieliggaam geaffilieer kan word.
Volgens Moos, was die proses uitdagend, maar is die voorlopige goedkeuring 'n belangrike stap vir die akademie.
"Dit was nie maklik nie, maar ons het dit reggekry. Ten spyte daarvan dat ons goedkeuring ontvang het, moet ons steeds aan streng vereistes voldoen. Ek glo egter ons sal dit regkry."
Moos het gesê sy jare lange betrokkenheid by krieket in die SWD het ook tot die besluit bygedra om die akademie by die unie te wil affilieer.
"Ek is al jare lank deel van die krieketbroederskap van SWD en het die grootste deel van my krieket in hierdie unie gespeel. Ek kan bevestig dat ons gemeenskaplike doelwitte deel om sport binne ons gemeenskappe te bevorder en te verhef."
Vir die akademie is die goedkeuring die resultaat van jare se pogings en 'n belangrike stap in die ontwikkeling van sy krieketprogram.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’