OUDTSHOORN NUUS - Garden Route Badgers se openings-kolwer, Tazmin Brits, se flitsende kolf was die afgelope Saterdag grotendeels verantwoordelik vir 'n oorwinning oor Hollywoodbets Dolphins wat gedurende die naweek by die Oudtshoorn-sportstadion gespeel is.
Hierdie eendaagse wedstryd vorm deel van Krieket Suid-Afrika (KSA) se Professionele Vroue Binnelandse Liga.
Die Badgers het die loot gewen en besluit om eerste te kolf waarna hulle 'n skaflike 226/8 in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken het.
Brits, berug daarvoor dat sy haar lopies teen 'n hoë tempo kry, het haar gevreesde reputasie gestand gedoen toe sy 126 lopies van slegs 112 balle na alle uithoeke van die veld gemoker het. Haar beurt het 14 grenshoue en vier sierlike sesse ingesluit.
Al die Protea-spelers is tans beskik-baar om in dié reeks te speel en die kompeterende aard van al die wedstryde tot dusver, dien as bewys van dit.
Dus wat dit geen verrassing toe dit Brits se Protea-spanmaat, Nonkululeko Mlaba was, wat van haar ontslae geraak het nie.
Mlaba het uiteindelik met 'n indrukwekkende boulsyfers van vyf paaltjies vir slegs 24 lopies in haar 10 boulbeurte geëindig.
Dolphins se lopiejaagtog het belowend begin, maar het met vier balle oor, nog nege lopies nodig gehad vir 'n sege. Dolphins se kolwers, Klara Fisher (27*) en Jade de Figueiredo (25) het die beste gevaar met die kolf.
Vir die Badgers het Tabitha la Grange drie paaltjies (3/36) platgetrek en was sy goed ondersteun deur Chantelle van Schoor en Micaela Andrews, wat op hul beurt elk twee paaltjies ingepalm het.
Khayakazi Mathe het een paaltjie geneem plus twee kolwers wat sy uitgehardloop het. Badgers wen die wedstryd met nege lopies.
KSA T20 Challenge
In die Krieket Suid-Afrika se T20-wedstryd het die Dolphins dié keer eerste gekolf, maar kon hulle slegs 104 lopies op die telbord plaas.
Weereens was dit Brits wat Dolphins se futlose boulers gekasty het met 'n onoorwonne 62 lopies van slegs 46 balle.
Die gasheer het die teiken reeds in die 16de boulbeurt bereik met sewe paaltjies nog staande.
Badgers wen met sewe paaltjies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’