OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gebore Protea-bouler, Ottniel Baartman, het verlede week groot opslae gemaak tydens die 2025 Betway SA20-spelerveiling toe hy vir 'n indrukwekkende R5,1 miljoen deur die Paarl Royals gekoop is.
Baartman het die afgelope seisoen vir die Sunrisers Eastern Cape gespeel waar hy die reeks oorheers het met 30 paaltjies, die meeste nóg in die geskiedenis van die SA20. Sy prestasies het hom die titel, Bouler van die Seisoen besorg, sowel as Krieket SA se Internasionale Nuweling van die Jaar.
Die SA20, ook bekend as die Betway SA20, is 'n Twintig20-franchise-kriekettoernooi in Suid-Afrika, georganiseer deur Krieket Suid-Afrika.
Baartman is veral bekend vir sy vermoë om as vinnige bouler onder druk te presteer. Sy skerp variasies en akkuraatheid maak hom 'n waardevolle wapen, nie net in plaaslike krieket nie, maar ook op die internasionale verhoog. Sy pad was egter alles behalwe maklik. Soos baie jong sportlui van die Klein-Karoo moes hy struikelblokke oorbrug en groot opofferings maak om sy drome na te jaag.
Oor die veiling sê Baartman: "Dit was nogal 'n opwindende geleentheid en ek was senuweeagtig. Ek het gedink ek gaan weer vir die Sunrisers speel, maar toe koop Paarl my."
Volgens hom word hierdie veiling elke drie jaar gehou en was daar tydens hierdie veiling 580 name. Die SA20 word deur ses spanne gespeel wat uit 19 spelers bestaan.
Waar het dit begin
Baartman se verhaal begin in Oudtshoorn, waar hy grootgeword het en sy eerste krieketstappe by Union Stars geneem het. Hy het later vir SWD en die Knights gespeel voordat hy sy pad na die nasionale span oopgewerk het. Hy vertel hoe sy neef, Douglas Baartman, vandag 'n SWD-afrigter, sy rolmodel was: "Hy het ook vir Union Stars gespeel en ek het altyd gedink ek wil soos hy wees."
Sy pad was nie maklik nie. "Ek het vir 20 jaar in 'n ghetto gewoon. Jy kom nêrens in die lewe deur op te gee of wanneer jy toelaat dat jou omstandighede jou toekoms bepaal nie. Jy moet net hard werk," sê hy.
Baartman sê elke dag was vir hom 'n treetjie nader aan die sukses wat hy wou behaal.
"Dit is harde werk en baie opofferings, maar aan die einde van die dag is dit absoluut die moeite werd."
Hy glo opvoeding is net so belangrik soos sport. "Die lewe werk nie altyd soos jy wil hê nie. As jy beseer word of sport nie uitwerk nie, moet jy iets hê om op terug te val. Moenie net skool of universiteit los nie. Kry iets agter jou naam."
Tans woon hy in Durban, terwyl sy ma, vrou en twee kinders steeds in Oudtshoorn is. Die afstand en opofferings weeg swaar, maar hy sê sy familie is sy grootste dryfveer.
Baartman sê die SA20 is net een maand van die jaar, maar die geleentheid om sy dorp en streek se naam hoog te hou, beteken vir hom net soveel soos die rekordbedrae waarvoor hy gekoop word. Vir jong spelers van die Klein-Karoo is hy 'n inspirasie en 'n bewys dat harde werk en dissipline jou tot op die wêreldverhoog kan neem.
Of dit nou in die Groen-en-goud van Suid-Afrika is, of in franchise-kleure op internasionale toernooie, Baartman dra sy Klein-Karoo-wortels met trots saam.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’