OUDTSHOORN NUUS - 'n Hoërskool Oudtshoorn-atleet Elmé Botha, het die afgelope naweek haar skool se naam hoog gehou toe sy as 'n o.18-skoleatleet aan die senior SA atletiekkampioenskap op Tukkies se sportterrein deelgeneem het.
Botha het op Saterdag 10 Maart by die Wes-Kaapse skolekampioenskap gekwalifiseer om aan die SA senior én skolekampioenskappe deel te neem. By die senior kampioenskap moes sy, anders as by skole byeenkomste se 3 kg-gewig, met 'n 4 kg-gewig teen die land se bestes meeding.
Sy het in die gewigstoot 'n vyfde plek verower en in die hamergooi 'n 12de plek losgegooi.
Elmé, haar suster, Jonéll, en hul mede-Struisie, Thomas Jordan, neem sedert gister (Donderdag 22 Maart) aan die SA skolekampioenskap in Potchefstroom deel.
Jordan het by die Wes-Kaapse skolekampioenskap 'n bronsmedalje verower. Elmé het in gewigstoot 'n eerste plek, hamergooi 'n tweede plek en diskus 'n vierde plek behaal.
Jonéll het 'n derde plek in hamergooi behaal.
Elmé (links) en Jonéll Botha.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'