OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se veteraanatlete bewys dat ouderdom net 'n getal is en dat die geheim tot sukses in sport, en in die lewe, volharding en deursettingsvermoë is.
Hierdie atlete, wat steeds aan plaaslike en nasionale kompetisies deelneem, hoop om jonger generasies te inspireer om aan te hou oefen, ongeag die uitdagings wat hulle in die gesig staar.
Oudtshoorn Courant het met ses van die atlete gesels.
"Ek weet ek kan hom verbygaan"
Ernst van Zyl (62) is 'n toegewyde padatleet en veral 'n passievolle Race Walker. Sedert 2019 neem hy jaarliks aan sowat 20 halfmaratons deel. Hy glo kompetisie hou hom gemotiveerd.
"Ek was nog altyd lief vir wedlope, maar soos die lewe aangaan raak tyd min en mens hou op. Gelukkig het ek weer begin, en nou geniet ek elke oomblik daarvan. Ek neem deel vir die kompetisie, as daar iemand voor my stap, wil ek hom verbygaan, want ek weet ek kán. Dit is ook lekker as jy deelneem en jy kan jonger mense verbygaan."
Hy benadruk dat oefening nie net vir gesondheid belangrik is nie, maar ook vir die gemoed. "Dis lekker om buite te wees, tyd in die natuur te spandeer en nuwe plekke te sien. Boonop weet mens nooit wie jy langs die pad inspireer nie."
"Atletiek was my redding"
Johann Coetzer, 'n baanatleet, is reeds vir baie jare 'n mededingende deelnemer in verskeie items, hoewel sy gunstelinge hoogspring, verspring en driesprong is. Hy het vroeër hierdie maand weer sy nasionale klere verwerf om by sy reeds indrukwekkende hoeveelheid toekennings te voeg.
"Ek het al van skooldae af gehardloop, maar eers ná my aftrede regtig ernstig begin deelneem," vertel hy. Coetzer, 'n voormalige weermaglid, sê atletiek het vir hom 'n gevoel van vryheid gebring.
"Dit was my redding in moeilike tye. Dit het my geleer om aan myself te bewys ek kán."
Padatlete gee nie op nie
Abraham Hendricks (55) en Jason Jaftha (65) is ook bekende meesteratlete, en hoewel hulle padwedlope verkies, kry hulle afrigting by Coetzer. Hendricks, wat relatief onlangs begin deelneem het, sê hy hoop om ander mense te motiveer om meer te oefen en 'n gesonde leefstyl aan te neem.
Jaftha neem sy lewe lank aan atletiek deel. Hy het vertel hoe hy vroeër jare nie op die bane mag geoefen het nie.
"Dit het my nie gekeer nie. Ek het aanhou hardloop en vir solank as wat die Here my spaar sal ek aanhou." Jaftha spog ook met 'n rits marathons wat hy oor die jare kafgedraf het.
Amanda Hager (62), 'n voormalige atleet, moes weens siekte vir 'n lang tyd ophou hardloop, maar haar geloof en vasberadenheid het haar terug op die baan gekry.
"Ek het die Here belowe dat as Hy my weer sou laat hardloop, ek dit tot Sy eer sal doen, en dis presies wat ek doen. Sy het al twee keer kanker oorwin en leef met fibromialgie, maar weier om toe te laat dat haar siekte haar keer.
"Atletiek herinner my daaraan dat ek nog kan. Ek druk nie my lyf te hard nie, maar ek hou aan."
"Moenie ophou nie"
Oudtshoorn se bekendste meesteratleet, Lampies Lamprecht (75), het al in byna alle items deelgeneem - van landloop tot stap.
Volgens Lamprecht is die grootste fout wat mense maak, om op te hou oefen. "Soos jy ouer word, raak sekere dinge moeiliker, maar dit beteken nie jy moet ophou nie. As jy nie meer kan hardloop nie, draf jy. As jy nie meer kan draf nie, stap jy. Al loop jy stadiger, moet net nie ophou nie."
Hy glo ook dat jong mense van vandag te vinnig moed opgee.
"Baie jong atlete gee op as hulle nie dadelik bereik wat hulle wil nie. Maar sukses verg harde werk en volharding. Dit is seker waarom ons nog aanhou."
Wat is veteraan- en meesteratlete?
In Suid-Afrika word meesteratlete volgens hul ouderdom ingedeel, met die Suid-Afrikaanse Meestersvereniging (SAMA) wat die kompetisies reguleer. Atlete van 35 jaar en ouer word as meesters beskou, terwyl dié van 60 jaar en ouer as grootmeesters kwalifiseer.
Alhoewel ou terme soos veterane (40-49), meesters (50-59), grootmeesters (60-69) en groot grootmeesters (70+) steeds gebruik word, is dit amptelik laat vaar om aan te pas by Wêreldatletiek se definisies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’