OUDTSHOORN NUUS - Die Atletiek Suid-Afrika (ASA) kwalifiserende byeenkoms, wat die afgelope naweek in Oudtshoorn plaasgevind het, het wyd kommentaar ontlok oor die bevoegdheid van ASWD om byeenkomste op hierdie skaal aan te bied.
Die kritiek het veral ontstaan omdat atlete in SWD hierdie byeenkoms gebruik om te kwalifiseer vir ASA-byeenkomste om nasionaal te kan deelneem.
Een van die voorvalle wat die meeste aandag getrek het, was tydens die 400 m- hekkies vir o. 18-seuns, toe die derde hekkie in een van die atlete se bane ontbreek het. Dit het daartoe gelei dat die atleet die wedloop van voor af moes aanpak.
'n Video van die voorval het kort daarna wyd op sosiale media versprei.
Na aanleiding van die voorval is verskeie klagtes deur die atletiekgemeenskap geopper. Dit sluit onder meer in dat daar nie elektroniese tydsberekening vir baanitems vertoon is nie, dat medaljes nie aan deelnemers oorhandig is nie, foute op programme, dat sommige uitslae verkeerd deurgegee is, en vrae oor die bevoegdheid van tegniese beamptes.
Volgens 'n ouer wat bekend is met atletiek-administrasie en wat die insident gesien het, was die hoofoorsaak van die insident die feit dat daar nie 'n tegniese beampte teenwoordig was nie. Die opstel van die hekkies is vir kinders gelos terwyl die tegniese beampte dit nie gekontroleer het nie. Die beampte het eers opgedaag na die insident plaasgevind het.
Volgens Soraya de Reuck, algemene bestuurder van Atletiek Suid-Westelike Distrikte (ASWD) was die hekkie-insident die gevolg van 'n menslike fout.
"Ons as ASWD spreek hiermee ons opregte verskoning uit aan die hele atletiekgemeenskap, die toeskouers, skole, ouers en veral aan die betrokke atleet."
Sy het verduidelik dat die situasie onmiddellik volgens die voorgeskrewe appèlproses aangespreek is, én met die betrokke atleet, Marco Lesch, en sy spanbestuurder bespreek is. Volgens die reëls van ASA en Wêreldatletiek moet die atleet 'n rusperiode van 45 minute kry voordat hy weer kon deelneem, maar Lesch het aangedui dat 15 minute vir hom voldoende sou wees.
"Die atleet het daarna 'n solowedloop gehardloop en 'n kwalifiserende tyd van 54.49 sekondes behaal."
Met betrekking tot die afwesigheid van medaljes het De Reuck verduidelik dat medaljes wel geborg en gebrandmerk was vir die Rosemoor-byeenkoms, maar dat ASWD weens tydsbeperkings nie betyds 'n nuwe borg vir die kampioenskappe kon bekom nie.
Sy het verder gesê dat digitale tydsbereke-ning wel tydens die byeenkoms gebruik is, wat deur Hibred voorsien is.
"Elektroniese tydsberekening is deel van die munisipale bates, maar die toerusting is ongelukkig gesteel. Ons diensverskaffers het ons die afgelope twee jaar teleurgestel en ons sonder resultate gelaat. Die kwotasies wat ontvang is vir nuwe dienste was uiters hoog - meer as R40 000, uitgesluit verblyf, vlugte, koerierkoste en etes - wat ons nie kon bekostig nie."
Volgens De Reuck is die tegniese beamptes wat by die byeenkoms diens gedoen het, behoorlik opgelei en beskik hulle oor kwalifikasies op onder meer Wêreldatletiek vlak 1 en ASA vlak 1 tot 3.
Sy meen ook dat die beskrywing van die byeenkoms as ongeorganiseerd nie die volle prentjie weergee nie.
"Die kampioenskapprogram het uit 157 items bestaan. Slegs die 400 m- hekkiesvoorval het probleme veroorsaak, terwyl 156 items betyds plaasgevind het."
Volgens haar is uitslae ook betyds deur ervare beamptes saamgestel en op WhatsApp-groepe met atlete, ouers en afrigters gedeel.
Ten spyte van die kritiek sê ASWD hulle is trots daarop dat 'n voorlopige provinsiale span van sowat 90 atlete gekies is om die distrik by die ASA o. 16-, o. 18- en o. 20-kampioenskappe te verteenwoordig, wat van 25 tot 27 Maart in Germiston plaasvind.
Volgens Joe Arendse, president van ASWD, het een van die afrigters die byeenkoms in 'n boodskap aan hom opgesom deur te sê dat dit belangrik is om die verskil tussen die organiseringsproses en die uiteindelike organisasie van 'n byeenkoms te verstaan.
Die afrigter het aangedui dat menslike foute deel van die organisering van enige groot atletiekbyeenkoms is en dat, ten spyte van die hekkie-insident en negatiewe kommentaar, die meerderheid van die program suksesvol verloop het.
Volgens hom het ASWD, ondanks die kritiek, steeds daarin geslaag om 'n byeenkoms te lewer waarvan die grootste deel sonder probleme afgehandel is.
"Ons erken die foute en die nadele wat dit vir sommige atlete veroorsaak het, maar ons leer daaruit en neem dit in ag om 'n beter ASWD-kampioenskap in 2027 aan te bied."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’